top of page
  • Writer's pictureMW Welman

Magtige Max storm voort

Max Verstappen en Red Bull het die afgelope naweek se Formule 1 Grand Prix in België totaal oorheers, en Nuuspod vra die vraag of Max die toneel gaan oorheers soos Lewis Hamilton die afgelope paar jaar gedoen het. Ons kyk bietjie na alles wat die naweek gebeur het, en bespiegel oor die bestuurdersmark en wie by watter spanne gaan opeindig.


HARTBREEK NUUS VIR SUID-AFRIKA

Spa is een van die gewildste bane op die kalender met baie verbysteekgeleenthede, met die Nederlandse ondersteuners van Max Verstappen wat in hulle duisende opruk en die hele wêreld in oranje rook versmoor. Hierdie baan het die naweek ook ons Suid-Afrikaanse harte gebreek toe dit aangekondig is dat Spa weer volgende jaar op die kalender gaan wees, en nie die Suid-Afrikaanse Grand soos verwag en gehoop is nie.


Dit lyk of Formule 1 net eenvoudig te veel geld wou hê om die wedren te mag aanbied, en die regering was nie bereid om enige waarborge te verskaf nie. Dit klink of Patrice Motsepe ook ‘n ogie gegooi het maar toe nie bereid was om sy kop op die blok te sit nie, en Toby Venter, die eienaar van beide Porsche SA en die Kyalami baan het tereg gesê dat al die maatskappye wat al voorheen die wedren aangebied het, bankrot gespeel het en dat hy nie bereid was om dieselfde paadjie te loop nie.


DIE GRAND PRIX

Nou ja kyk, sowat van totale dominansie het ons baie lanklaas in Formule 1 gesien.


Soos ons weet, mag spanne net ‘n bepaalde aantal komponente gebruik vir die hele jaar as gevolg van die nuut ingestelde koste beperking (of Cost cap). Spanne mag byvoorbeeld net drie enjins vir die hele jaar gebruik, en sou ‘n span nodig hê om bv. meer as drie enjins of ander komponente te gebruik, word die span (en die jaer) met ‘n bepaalde aantal plekke op die wegspringrooster gestraf vir elke komponent wat die jaarlikse kwota oorskry. As die span byvoorbeeld meer as drie enjins vir die jaar gebruik, word die span met tien plekke op die wegspringrooster gestraf, ‘n ratkas vervanging vyf plekke ensovoorts.


Max Verstappen van Red Bull was die naweek met die oefenlopies soveel vinniger as enige een van die ander jaers dat Red Bull besluit het hulle kan sy kar se enjin, turbo aanjaer, MGU-K en MGU-H vervang, ongeag die hoeveelheid strafplekke op die rooster wat hy sou ontvang, en dat hulle nog steeds vinnig genoeg sou kon wees om dalk te wen!


Max is toe ‘n met totaal van twintig plekke gestraf en moes in teorie heel agter wegspring, ongeag waar hy sou kwalifiseer. Gelukkig word België wyd beskou as een van maklikste bane om op verby te kan vat, en daarom het Charles le Clerc van Ferrari, Esteban Ocon van Alpine, Lando Norris van McLaren, Mick Schumacher van Haas en Valterri Bottas van Alfa Romeo almal besluit om verskeie komponente te vervang, wat tot gevolg gehad het dat die hele wegspringrooster totaal en al deurmekaar was na al die op- en af skuiwe in ag geneem is.


Max het soos verwag, die kwalifikasie Saterdagmiddag totaal en al gedomineer, soveel so dat hy net een keer in elke kwalifiserings sessie gery het. Hy het op die ou einde meer as ses-tiendes voor die Ferrari van Carlos Sainz gekwalifiseer. Sy spanmaat Sergio Perez was derde met die Mercedes AMG’s wat ‘n volle 1.8s stadiger as die Red Bull was.


Dit was een van die meer aangrypende oomblikke van die naweek gewees om Lewis Hamilton se totale ongeloof te kon hoor oor hoe ver agter die Red Bulle hulle was.


Die finale wegspring rooster vir naweek het dus as volg gelyk na die skuiwe.





Van belang hier is waar Max opgeëindig het – in veertiende plek as gevolg van al die ander spanne wat ook gestraf moes word, in plaas van die twintigste plek soos aanvanklik gedink was. Red Bull se briljante strateeg, Hannah Schmitz, het weer eens hier kop en skouers bo die res uitgestaan.


Die wedren het Sondagmiddag om drie-uur begin, met baie warmer weer as wat die heel naweek ervaar is. Dit het natuurlik tot gevolg gehad dat niemand kon seker wees hoe die Pirelli bande hulle sou gedra in die warmer toestande nie omdat hulle dit glad nie in sulke weer kon toets nie, en die band keuses was in die meeste gevalle dus maar ‘n gedobbel.


Almal het goed weggespring en vir ‘n verandering was daar geen ongelukke by die eerste draai nie, maar die drama het gekom toe Lewis vir Alonso wou verbysteek by die vyfde draai.


Hy het met sy agterwiel bo-oor Alonso se voorwiel gery, die hele motor het die lug ingeskiet en met ‘n geweldige slag (na die tyd het ons gehoor die imopak was ongeveer 45G), teruggekom aarde toe. Lewis het aanhou ry maar die motor was beskadig en hy moes kort daarna onttrek. Dit was nogal ‘n gesig om te sien hoe Lewis met geboë skouers, half verslane die lang pad kuipe sien aandurf. Dit was die teenoorgestelde van Lewis se dominansie gedurende die jare wat hy wêreldkampioen was, en op ‘n manier herinner dit my aan ‘n trop leeus waar die jong mannetjies die ou patriarg verdryf – nogals hartseer op ‘n manier.


Natuurlik het die Alonso ‘n mondvol te sê gehad oor Lewis, onder andere dat hy slegs kan ry as hy eerste is of voor wegspring, wat natuurlik nie hierdie jaar die geval is nie. Ek dink dit was bietjie onsmaaklik en ongevraagd – of jy nou van hom hou of nie, hy was immers al sewe keer die kampioen gewees.


Die res van die wedren was maar redelik saai, en daar is nie veel om daaroor te sê nie.


Dis genoeg om te weet dat Max binne 13 rondtes die voortou geneem het nadat hy van 14e plek af begin het, en van daar af het hy net eenvoudig voortgeseil en ‘n hele 18 sekondes voor sy spanmaat, Sergio Perez geëindig.


George Russel in sy Mercedes het heldhaftig probeer om Sainz in te haal, maar dit was tevergeefs, en hy moes tevrede wees met vierde plek.


Ferrari het hulle strategie-treurmare van die afgelope tyd voortgesit, en hulle nuutste plan blyk te wees om die drywers te laat besluit oor watter strategie om te volg. Dis eenvoudig ongehoord en amper naief, en natuurlik het die swak uitslae dit net ingevryf. ‘n Verdere illustrasie hiervan was toe Leclerc twee rondtes voor die einde teen sy sin nuwe, sagte bande opgesit in ‘n poging om die vinnigste rondte tyd te behaal (jy kry natuurlik ‘n ekstra punt vir die vinnigste rondte sou jy in die top 10 eindig), maar hy kon dit regkry nie, self met ‘n vriendelike sleep deur Alonso. Inteendeel, sy stop was so amateuragtig en gejaagd dat hy die spoedgrens in die kuipe gebreek het en met 5 sekondes gestraf is. Dit het gemaak dat hy in die sesde plek agter Alonso geëindig het, alhoewel hy voor hom op die baan was.


Alexander Albon van Williams het skitterend gery om 10e te eindig, en altwee McLarens was hopeloos en het buite die punte geëindig. Mens wonder watter effek al McLaren se drywer sages op die span het, want dit wil vir my lyk (as ‘n volbloed McLaren ondersteuner) asof die span net al hoe verder agteruit gaan. Dalk sal die oplossing van die kontrak sage dinge bietjie beter laat gaan, maar ons sal maar moet sien.

Die finale uitslag was as volg:



HOEKOM WAS RED BULL SOVEEL VINNIGER?

Daar was natuurlik heelwat vrae oor hoe Red Bull skielik soveel vinniger geword het.


Christian Horner, Red Bull se spanbaas het verwoed walgegooi teen gerugte dat Red Bull ‘n nuwe liggewig onderstel geinstalleer het, en hy het probeer verduidelik dat al die spanne hulle motors hoër as gewoonlik van die grond af moes instel, beide as gevolg van die Technical Directive en om te voorkom dat die motors die grond tref deur die skrikwekkende Eau Rouge draai. Hy het geargumenteer dat Red Bull van nature hoër gestel is as die ander spanne en dat hulle nie so erg deur die aanpassings geaffekteer is nie.

Ek dink die geheim is bloot dat Red Bull het nie net die beste jaer in Max Verstappen het nie, maar ook die beste ontwerper in die briljante Adrian Newey en dat die ander spanne gaan sukkel om hierdie kombinasie te kan klop.


DIE STAND VAN DIE KAMPIOENSKAPPE

Red Bull is dan nou ook myle voor Ferrari in die vervaardigers kampioenskap, met 475 punte teenoor 357, en

dit sal my nie verbaas as Mercedes met 316 punte nog vir Ferrari verbysteek nie.


In die bestuurders kampioenskap loop Verstappen gemaklik voor met 284 punte, en sy spanmaat Sergio Perez het nou vir Charles Leclerc verbygesteek om die tweede plek te beklee.


Hierdie jaar se vervaardigers en drywerskampioenskappe is so te sê verby, en net ‘n katastrofe kan maak dat Red Bull en Max Verstappen nie die jaar wen nie.


SILLY SEASON

Soos gewoonlik is die aksie wat van die baan af plaasvind amper meer opwindend as die wedren self. Hierdie naweek was geen uitsondering nie.


Die hele wêreld en sy maatjie is besig om in hulle kristalballe te kyk oor watter jaer by watter span gaan opeindig.


Die voormalige Formule 1 jaer Marcus Ericsson wat deesdae in die Indycar reeks deelneem, het op die 1e Augustus die volgende voorspelling gemaak:




Daar is ‘n paar posisies wat nou reeds soort van bevestig is, soos Alfa Romeo met Bottas en Zhou, asook Norris en hopelik Piastri by McLaren, afhangende van wat gaan gebeur met die Contract Recognitions Board wat besig is om die onderskeie aansprake van McLaren en Alpine op die dienste van Piastri te oorweeg.


Die grootste verrassing lyk my is dat die Fransman Pierre Gasly by Alpine kan opeindig, met Mick Schumacher wat hom by Alpha Tauri kan vervang. Gasly en sy toekomstige Alpine spanmaat Esteban Ocon het geen ooghare vir mekaar nie, en terwyl die idee van twee Franse jaers in ‘n Franse span seker baie romanties klink, dink ek Alpine pluk hier ‘n lat vir hulle eie alie en kan hulle dalk in ‘n Hamilton/Rosberg situasie opeindig.


Schumacher het sy verbintenis met die Ferrari Driver Academy opgesê, en dit wil my voorkom met die idee om dalk deel van die Red Bull Academy te word en by Alpha Tauri, Red Bull se susterspan aan te sluit.


Die ander verrassing is die moontlikheid dat Daniel Ricciardo by Haas gaan opeindig.


Alhoewel Haas die jaar met ‘n groot gejuig begin het, het hulle al hoe verder teruggeval soos die seisoen aangegaan het, en so ‘n skuif vir Ricciardo sal definitief ‘n stappie agteruit wees. Maar ten minste sal hy dan nog in Formule 1 wees, en hy is reeds deur McLaren uitbetaal vir volgende jaar, so dalk kan hierdie as ‘n soort stopgap gesien word tot ‘n beter sitplek dalk in 2024 beskikbaar word. Soos ons weet, verstryk Lewis Hamilton se kontrak einde 2023 en mens weet nooit!


Interessante tye om 'n Formule 1 entoesias te wees!



12 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page