top of page
  • Writer's pictureMW Welman

Nederlandse Grand Prix: Het Red Bull verneuk?

HIerdie week kyk ons terug na die Nederlandse Grand Prix en al die drama wat daar gebeur het, so vinnig na die komende naweek se Italiaanse Grand Prix op Monza, en dan laastens na die nuutste en stories oor wat agter die skerms aangaan, en ons fokus veral op die klagtes dat Red Bull en Alpha Tauri saamgespan het om te kul, om sodoende te verseker dat Max weereens wen en Mercedes van hulle eerste oorwinning van die jaar te ontsê.


Kom ons kyk na die Nederlandse Grand Prix self. Soos ons almal weet, is hierdie Max Verstappen se tuiswedren en het die Nederlanders in hulle honderdduisende in al hul oranje glorie opgedaag. Ongelukkig het hulle irriterende oranje fakkels ook saamgekom, en al was die gebruik daarvan verbied, het dit hulle geensins verhinder om ‘n oorlas van hulle self te maak nie, soveel so dat die baan amper permanent in ‘n oranje waas gehul was. Die kwalifiserings rondtes moes selfs op ‘n stadium gestop word nadat iemand een van die fakkels op die baan gegooi het, maar dit moet darem genoem word dat die berugte duiwe van Nederland hulle ook glad nie aan die resies gesteur het nie, en self meer as een keer verjaag moes word.


Na verlede week se totale oorheersing deur Red Bull in die Belgiese Grand Prix, was almal redelik pessimisties oor hulle kanse om enigsins hond haaraf te maak, maar toe Max Verstappen in die eerste oefen rondte tot stilstand kom met ‘n ratkas probleem, was almal sommer meer positief, vir die eenvoudige rede dat Red Bull skielik minder kans sou hê om te oefen en sodoende hulle kar perfek ingestel te kry.


In Free Practice One het die Mercedesse van Russel en Hamilton, asook die Ferrari van Sainz en wonder-bo-wonder beide die McLarens die vinnigste tye aangeteken. Perez in die oorblywende Red Bull kon slegs 7e eindig, en die ander spanne was vir ‘n verandering bietjie meer optimisties oor hulle kanse.


Die Ferraris het sterk na vore getree in Free Practice Two, met die vinnigste tye tussen die twee fa hulle, en Hamilton, Russel asook Norris in die McLaren het hulle vorm gehandhaaf, en Verstappen kon slegs 8e vinnigste wees. Perez was ver agtertoe in die twaalfde plek.


Met Free Practice Three het die McLarens soos gewoonlik uit die bus geval, en Ferrari, Red Bull en Mercedes het die boonste ses plekke gevul. So, toe die kwalifiserende rondte aanbreek, was daar heelwat rede om optimisties te wees, en veral Mercedes was baie meer vol selfvertroue as enige ander tyd hierdie jaar.

Die kwalifisering het toe dan ook vir die nodige vuurwerke gesorg, en Red Bull het weerens die haas uit die hoed getrek om Verstappen voor te laat wegspring met ‘n tyd wat slegs 0.019 sekondes vinniger as die van Charles Le Clerc se Ferrari was. Die eerste kontroversiële oomblik van die naweek, wat die komplot teorië op toe alreeds op hol laat gaan het, was toe Perez getol het in die laaste draai van die laaste rondte, en sodoende (bewustelik volgens die samesweerders) vir die Mercedesse verhinder om hulle vinnigste rondtes klaar te maak en so beter te kon kwalifiseer. Die Mercedesse het nietemin baie goed gedoen deur 4e en 6e te kwalifiseer, terwyl Lando Norris weereens gewys het hoekom hy as ‘n toekomstige wêreldkampioen beskou word deur sewende te kwalifiseer – as ‘n maatstaf, kan ons noem dat sy pas afgedankte spanmaat, Daniel Ricciardo slegs 17e kon kwalifiseer.


So ongeag die Perez drama, was die tafel dus gedek vir ‘n liplekker wedren met die top 7 jaers wat met slegs 0.8 sekondes van mekaar geskei is.


In ‘n tyd waar die renmotors besonders naby aan mekaar is in terme van werksverrigting, het dit al male sonder tal gebeur dat ‘n wedren in die kuipe gewen is, met ander woorde, met die strategie wat die span sou volg, en dit was weereens waar vir hierdie wedren.


Die vraag was nou wat die optimale band strategie sou wees, met ander woorde, op watter band ‘n jaer sou wegspring, en hoeveel keer hulle sou stop en bande ruil. Onthou die reël is dat elke jaer ten minste twee van die drie soorte bande moet gebruik (sag, medium en hard) so ten minste een stop is dus verpligtend. Elke kuipestop verloor tyd, en omdat die spoedgrens in die kuipe vir hierdie wedren na 60 km/h verminder is eerder as die normale 80km/h, sou die verlore tyd vir ‘n kuipe stop meer as gewoonlik wees. Die spanne wat dus meer as een keer sou wou stop, sou ‘n redelike groot voorsprong moes kon opbou om die tydsverlies op te maak teenoor bestuurders wat net een keer sou stop. Die vraag was dus of die ouer bande van die eenstoppers lank genoeg sou kon hou om die twee stoppers met varser bande agter hulle te hou.


En op tipiese Formule Een manier, is dit presies waar al die drama van die Nederlandse Grand Prix gebeur het. Mens moet verstaan hoe Formule Een werk, om die drama behoorlik te kan waardeer.

Formule Een het ‘n paar bestanddele wat saamwerk om ‘n kampioenspan te maak. Die eerste is natuurlik die jaer – ‘n vinnige jaer in ‘n stadige kar is beter as ‘n stadige jaer in ‘n vinniger kar, juis omdat hierdie tipe bestuurder (soos Verstappen. Hamilton en Norris) se natuurlike talent hulle in staat stel om iets ekstra uit die motor te kan kry, wat mindere bestuurders nie kan nie.


Meng hierdie uitsonderlike talent dus met die volgende bestanddeel, ‘n vinnige renmotor, en jy is oppad om ‘n wen kombinasie bymekaar te sit.


Die volgende bestanddeel, waarsonder daar natuurlik nie ‘n vinnige motor kan wees nie, is ‘n goeie ontwerper. In Formule Een is die ontwerpers amper net sulke rock sterre soos die bestuurders, en iemand soos Adrian Newey van Red Bull word as een van die mees suksesvolle ontwerpers ooit beskou.


Die finale bestanddeel, wat deesdae ‘n al hoe belangriker rol speel, is die van strateeg – die persoon wat besluit oor band keuses, wanneer om te stop vir nuwe bande, watter bande om te kies en dies meer. In Red Bull se geval is die strateeg ‘n jong vrou genaamd Hannah Schmitz, waarna ons reeds voorheen verwys het, en haar briljante strategies besluite het al vir verskeie oorwinnings vir Red Bull gesorg.


Sy het ‘n Meestersgraad in Meganiese Ingenieurswese van die Universiteit van Cambridge, en spesialiseer in data ontleding ens om die regte besluite in wedrenne te kan neem.


So, noudat ons dit alles verstaan, wat het dan nou eintlik gebeur? Mercedes was oortuig dat hulle motor vir hierdie wedren baie kompeterend was, en dat hulle dalk selfs die voorste wegspring plek sou kon losgeslaan het as dit nie vir Perez se tolslag was nie. Hulle het dus besluit om eerder op medium bande weg te spring, terwyl hulle opponente, veral Verstappen en Leclerc, op sagte bande weggespring het. Mercedes het beplan om slegs een keer te stop vir bande, om dan die harde bande op te sit, en dannte hoop dat hulle die bande lank genoeg sou hou vir hulle om die einde van die wedren te haal en voor die Red Bulls en Ferraris te kon eindig.


Red Bull en Ferrari het beplan om te begin op sagte bande, te stop vir mediums en dan weer te stop vir sagte bande en dan soort van ‘n naelren of sprint race te hê tot die einde toe.


Dinge het egter nie so lekker uitgewerk vir die Red Bulls nie. Die sagte bande het glad nie so goed gevaar soos verwag nie, terwyl die Mercedesse uitstekend gevaar het op hulle harde bande, soveel so dat Max die gevaar begin loop het om nie die wedren te wen nie. DIt beteken as Verstappen weer moes stop soos beplan en die Mercedesse sou aanhou ry tot die einde toe, was die kanse goed dat hy hulle nie sou kon inhaal en verbyvat nie, want die baan is berug daarvoor dat verbysteek baie moeilik is.


Wat volgende gebeur het is dit waarvan legendes (en natuurlik sameswerings teorië) gemaak word. In Rondte 47 het Yuki Tsunoda van Alpha Tauri bande geruil maar toe op die baan gestop en gesê hy dink ‘n band is los. Die span het die data beskou en hom laat weet dis nie die geval nie en hy kan maar aanry. Hy het begin ry maar weer die kuipe ingekom, weer bande geruil en toe weer op die band gestop. Dit het tot ‘n VSC aanleiding gegee wat almal die geleentheid gegee het om vinnig in die kuipe te stop en ‘n vars stel bande op te sit. Omdat dit onder dis VSC gebeur het, was almal se spoed beperk en ‘n stop was het baie minder tyd gekos as wat dit normaalweg sou, en dit het aanleiding gegee daartoe dat Mercedes se een-stop strategie uitgekanselleer is.


Dit het aanleiding gegee tot verskeie wilde beskuldigings en bespiegelings, en Hannah Schmitz is genadeloos deur die sosiale media trolls aangeval en beskuldig dat sy en Red Bull onderduims opgetree het, en met Alpha Tauri saamgesweer het. Selfs Lewis Hamilton het nou al vir haar in die bresse getree en die beskuldigings afgemaak as blote bespiegeling, en haar geprys deur te sê dat enige span bevoorreg sou wees om haar in hulle span te hê. Alpha Tauri het ook in ‘n sterk bewoorde verklaring alles ontken, en duidelik gemaak dat hulle in die gesit gevat voel deur die aantygings.


Ek het natuurlik ook laas nogal gesê plaas dar Ferrari haar afrokkel en hulle strategie kleuterskool vervang met iemand wat weet wat sy doen.


Mens moet darem net noem dat sodanige gekonkelry natuurlik nie sonder enige presedent is nie. Flavio Briatore het in die 2008 SIngapoer GP opdrag gegee dat Nelson Piquet Jnr opsetlik moes bots om ‘n veiligheidsmotor (safety car) te veroorsaak, en sodoende te verseker dat sy spanmaat Fernando Alonso die wedren kon wen. Maar dis ‘n lang tyd sedert 2008, en daar is eenvoudig geen manier wat ‘n span vandag met so iets sou kon wegkom nie. Die gevolge is eenvoudig te erg en strawwe hiervoor sou drakonies wees – die span sal byvoorbeeld van al hulle punte ontneem word, en reuse boetes opgelê word. F1 se fondse word onder die spanne verdeel gegrond op hulle punte van die jaar so die verlies van al hulle punte sou eenvoudig katastrofies wees.


So om vandag se vraag te bantwood: Ek is oortuig dat daar geen waarheid in hierdie bespiegelings steek nie, en dat Red Bull strategies net beter besluite as Mercedes geneem het, wat gemaak het dat Red Bull weereens gemaklik kon wen.


Terug na die wedren. Na ‘n volle veiligheidsmotor sessie, was Hamilton in die eerste plek maar hoogs ontsteld omdat Mercedes sy spanmaat George Russell ingeroep het om sagte bande op te sit, maar Hamilton uit te los sonder om bande te vervang. Die rede vir sy ontsteltenis was dat Russel as ‘n buffer kon dien tussen Hamilton en Verstappen, en met die dat Russel nuwe bande opgesit het. Is Verstappen is onmiddelik na die veiligheids motor ingekom het moeiteloos by Hamilton verby. Hamilton het dus van ‘n baie goeie kans op ‘n oorwinning gegly tot vierde plek, met sy spanmaat George Russel wat in die tweede plek geeindig het, met Ferrari se Charles Leclerc in die derde plek.


‘n Opwindende wedren met meer drama van die baan as op die baan. Na laas week se fiasko in Spa, lyk dit of Mercedes hulle voete begin vind, en dit lyk al hoe meer waarskynlik dat hulle Ferrari gaan verbysteek om die tweede plek in die vervaardigers kampioenskap.


Max is onstuitbaar op pad na sy tweede titel toe en ek ek sê weer, ek kan geen manier, behalwe vir een of ander katastrofe, sien hoe hy nie die jaar sy titel gaan behou nie.


Die volgende wedren die Italiaanse Grand Prix by Monza. Dis ‘n tradisioneel vinnige baan en natuurlik die plek wat Max laas jaar bo-op Lewis se renmotor geëindig, en waar Daniel Ricciardo McLaren se eerste oorwinning sedert 2012 behaal het. Daar het baie dinge in die tussentyd gebeur, nie die minste daarvan die feit dat Ricciardo basies afgedank is nie. Monza is gewoonlik onvoorspelbaar soos gesien kan word in die feit dat Pierre Gasly en Daniel Ricciardo die laaste twee wenners was, so ek dink dit kan weereens ‘n baie opwindende wedren wees.


En dit bring ons by die nuutste verwikkelinge in die sogenaamde silly season.


Sedert ons laas gepraat het, is Oscar Piastri bevestig as Daniel Ricciardo se plaasvervanger by McLaren nadat die CRB sy uitspraak gelewer het in die sage rondom wie van Alpine of McLaren ‘n geldige kontrak met die belowende jong jaer sou gehad het. Alpine is behoorlik in die uitspraak geroskam oor hulle onprofessionele optrede, en moet boonop nog 540 000 pond aan regskostes betaal. Soos die Engelse sê – that’s gotta hurt!


So, nou ontstaan die vraag wie vir Alonso/Piastri by Alpine gaan vervang, en weereens is die situasie propvol intrige. Soos laas genoem, is Pierre Gasly die gunsteling om by Alpine aan te sluit, maar dit beteken hy moet deur Red Bull (die eienaars van Alpha Tauri) van sy kontrak vrygestel word. Dr. Helmut Marko, die Oostenrykse korrelkop wat in beheer van Red Bulle se bestuurder-aangeleenthede is, het die naweek erken dat ‘n ooreenkoms in beginsel beklink is waar Gasly na Alpine toe gaan, en Gasly deur die Amerikaanse jaer Colton Herta vervang gaan word. Die rasionaal hieragter het vele aspekte, onder andere dat die sport tans geweldig groei in Amerika agv die Netflix reeks Drive to Survive en ‘n Amerikaanse jaer dus ‘n groot trekpleister sal wees, en ook dat Herta tans vir Andretti Racing in Indycar jaag. En soos ons weet, wil Andretti bitter graag deel word van Formule 1, maar nadat sy beoogde aankoop van Sauber laas jaar deur die mat geval het, het sy kanse maar skraal gelyk. Maar nou wil dit blyk dat Dieter Mateschitz, die eienaar van Red Bull, sy belange in Formule 1 wil begin ontbondel en dat Alpha Tauri waarskynlik verkoop gaan word.


So, doen die wiskunde. Hoekom sal Andretti vir Herta van sy Indycar kontrak vrystel om in Formule 1 te gaan jaag? Want die lang termyn plan is heel waarskynlik dat Andretti vir Alpha Tauri gaan koop! Praat van

intriges!


So daar is nog onsekerheid oor die toekoms van Daniel Ricciardo, Mick Schumacher en Nicolas Latifi. Interessant genoeg lyk dit of Ricciardo as reserwe jaer by Mercedes kan opeindig met ‘n oog daarop om dalk vir Lewis te vervang as die sou uittree. My gevoel is egter dat hy vir Mick Schumacher kan vervang by Haas en dat Schumacher gaan opeindig sonder ‘n sitplek.


Dit lyk ook al hoe meer of Latifi deur of Nick de Vries of nog ‘n Amerikaner, Logan Sargeant vervang gaan word, maar dat hy gaan gaan, is nie te betwyfel nie. Daar is natuurlik ook ‘n kans dat Ricciardo by Williams kan opeinding, en Jenson Button, die voormalige wêreldkampioen wat tans ‘n spesiale adviseur by Williams is, het ‘n sterk pleidooi gelewer dat Ricciardo hom by Williams moet aansluit. Button het natuurlik binnekennis van wat op pad is by Williams, en hy meen dat ‘n Ricciardo / Williams vennootskap baie opwindend kan wees.


Ander redelik dramaties dog nie-amptelike nuus uit Holland die naweek is dat die langverwagte Red Bull-Porsche transaksie van die baan af is. Die plan was dat Porsche 50% van Red Bull sou koop, en dan ‘n Porsche enjin vir Formule Een sou ontwerp, maar daar het al hoe meer gerugte begin loop dat Red Bull afgeskrik is deur die potensiaal vir burokratiese rompslomp wat kenmerkend is van groot maatskappye. Red Bull was al die jare nog amper fanaties onafhanklik en die moontlikheid dat hulle hierdie onafhanklikheid sou moes prysgee, blyk die transaksie ‘n doodskoot te gegee het.


En wie kan hulle blameer? Hulle het wêreldkampioen Max Verstappen, die beste ontwerper in Adrian Newey en die beste strateeg in Hannah Schmitz en natuurlik een van die beste spanbase in Christian Horner. Hulle het ook binne 55 weke ‘n totale nuwe enjin afdeling ontwikkel, ‘n fabriek gebou van die grond af, verskeie sterre uit die enjin departemente van veral Mercedes afgerokkel en reeds hulle eerste prototipe enjin voor die somervakansie op die toetsbanke laat hardloop. Verder het hulle hulle vennootskap met Honda tot einde 2025 verleng, met stek gerugte dat dit verleng gaan word? Gekoppel met die bemarkingsvoordele van die beste F1 span vir die koeldrank deel van Red Bull, is daar hoegenaamde ‘n rede vir Red Bull om voort te gaan met die Porsche transaksie. My beskeie opinie is dat hierdie transaksie dood in die water is, en dat Red Bull waarskynlik hulle suksesvolle verhouding met Honda gaan verleng, veral noudat Honda se nuwe baas weer ‘n motorsport entoesias is.


Porsche sit met ‘n dilemma en sal nou ‘n ander heenkome moet vind vir hulle F1 ambisies. Alhoewel McLaren en Aston Martin dalk nie opsies kan wees omdat beide van hulle met Porsche meeding in die die mark vir sport motors nie, is daar fluisteringe dat dit ‘n transaksie met McLaren dalk nie so vergesog is nie. Soos ons weet is die voormalige Porsche Le Mans spanbaas Andreas Seidl die man in beheer van sake by McLaren, en Porsche dink die wêreld van hom, so wie weet?


Daar is dalk ook ‘..n kans vir ‘n verbintenis met Williams, veral onder hulle nuwe Amerikaanse eienaars met die grootste struikelblok die feit dat Williams nie reeds ‘n enjin afdeling het soos Red Bull nie, met Porsche wat gevolglik alles van die begin af sal moet bou.


Mens moet so effens jammer voel vir Porsche. Dit voel of hulle soort van op nommer 99 deur Red Bull in die rug gesteek en in die woestyn gegooi is, maar dit is nou maar eenmaal Formule 1 vir jou: Gewetenloos en genadeloos.


Die jaar is nog ver van klaar en daar is gaan beslis nog baie komplotte en intriges wees om ons mee te vermaak. Ons sal julle op hoogte hou van alles.

14 views0 comments

コメント


bottom of page