top of page
  • Writer's pictureMW Welman

Vurige Bokke wen die wedstryd... en die geveg!

Saterdag se toets teen die Wallabies was die eerste toets in die nuwe Allianz Stadion in Sydney. Dis ‘n splinternuwe stadion en die feit dat Suid-Afrika 9 jaar laas in Australië kon wen, en nog erger, 29 jaar laas in Sydney kon wen, plus laas week se oorwinning oor die Bokke moes die Aussies baie moed gegee het vir ‘n vierde oorwinning in ‘n ry. Maar daar is min dinge gevaarliker as ‘n Springbok span met sy rug teen die muur, en een wat voel hy is te nagekom soos verlede week gebeur het. En soos verwag het hierdie span hierdie keer nie die passie in die kleedkamer gelos nie, maar van die begin af duidelik gemaak dat hulle hier is om te wen, soos duidelik geblyk het uit Damian de Allende se neergooi van die bal na die Bokke se eerste drie.


Geen wedstryd is ‘n gegewe nie, en of die span op alle silinder sou kon vuur met die agt veranderings wat aan die beginspan aangebring is deur Jacques Nienaber was ‘n groot vraagteken, maar die bestendige en ervare koppe van Willie le Roux en Siya Kolisi (wat seker een van die beste wedstryde van sy lewe gespeel het), het die druk van minder ervare spelers afgehaal. Willemse was uitsonderlik en as sy lynskoppe op die selfde standaard was as die res van sy spel, sou die Bokke baie verder kon gewen het. Hy het verskeie Aussies in die lug laat tas met sy systappies en sy gladde hantering het vir Lood de Jager van alle mense in ‘n gaping so groot soos ‘n waenhuisdeur gesit. Daar word algemeen gemeen dat die sukses van sy stelskoppe ‘n direkte invloed op sy algemene spel het, in die sin dat ‘n swak skop vertoning sy spel negatief beïnvloed en andersom, maar daar was Saterdag geen teken daarvan nie. Sy spel was uitsonderlik, veral as mens in ag neem dat hy die laaste paar jar meesal senter of heelagter gespeel het.


Die res van die span het eweneens beïndruk, met Malcolm Marx wat die hele 80 minute gespeel het, met die enigste blapse ‘n paar lynstane wat die Aussies kon steel op ons ingooi. Jasper Wiese het soos ‘n derduiwel gespeel en die meeste meters van die voorspelers gemaak, en so sy insluiting bo Duane Vermeulen meer as regverdig. Jaden Hendrikse het ‘n baie goed wedstryd gehad en sy op-‘n-tiekie lugskop het tot die hoendervleis oomblik van die wedstryd gelei toe die 19 jarige debutant van die Bulle, Canan Moodie die bal uit die lug gepluk voor laas week se Aussie held, Koroibeti wat toe net kon toekyk hoe Moodie soos ‘n vlakhaas hol om sy eerste toetsdrie te druk. Jake White is van mening dat Moodie nog ‘n honderd toetse vir die Bokke gaan speel en geoordeel aan gister se vertoning, is dit definitief nie vergesog nie.


Siya Kolisi het waarskynlik die wedstryd van sy lewe gespeel, en drie balle by die Aussies gegaps. SY reuse bydrae was tipies van lei van die voorkant af en die span het duidelik inspirasie daaruit geput.


Willie le Roux en Damian de Allende se seepgladde hantering het gelei tot Mapimpi se weerwraak drie en anders as verlede week, kon ‘n desperate duikslag deur Korombeti die Aussies nie die keer red nie. Mapimpi het dan ook die geleentheid gebruik om hom vriendelik daaraan te herinner, wat tot die moeder van alle gevegte aanleiding gegee het. Die spanning het die hele wedstryd hoog geloop en dis die een aspek van die spel waar die skeidsregter, wat andersins ‘n goeie wedstryd gehad het, tekortgekom het. In plaas daarvan om die spanning te ontlont deur ferm en beslis op te tree, het hy toegelaat dat dinge uiteindelik oorkook en sy desperate geblaas op sy fluitjie het nie veel hond haaraf gemaak nie. Eben Etzebeth se wilde oë toe hy die Aussie stut Allaletoa beethgekry het was tekenend van die passie van die Bokke. Iets moes seer sekerlik gebeur het om Eben so te laat ontplof en terwyl mens nie sy gedrag kan goedpraat nie, kan mens seer sekerlik sê kierankies braai na Nick White se Oscar vertoning laas week die Bokke geweldig ontstel het.


Die belangrikste ding nou is dat die Bokke moet begin om meer konsekwent te wees, en elke week hierdie tipe spel te kan uitstal. Dit gaan ons net mooi niks help om weer soos na die Slag van Nelspruit te speel met die passie van ‘n laerskoolspan nie, en ons sal oortuigend met Argentinië moet afreken en voortbou op hierdie oorwinning. As Australië ‘n haas uit die hoed kan trek en ten minste een keer met die All Blacks afreken, en ons wen altwee wedstryde teen Argentinë, kan ons nog hierdie jaar se Kampioenskaps reeks wen. En wat ‘n great manier om af te sluit voor ons toer na die Verenige Koninkryk die einde van jaar, en dan is ons basies in die pylvak op pad na die Wêreldbeker.


Weereens geoordeel aan gister se vertoning en die diepte wat ons het, dink ek ons staan ‘n goeie kans om soos die All Blacks, ons Wêreldbeker titel te kan verdedig. Ons het meer diepte as wat algemeen gemeen is, en Jacques Nienaber het tereg gesê dat ons reeds 32 spelers hierdie jaar gebruik het, alles daarop gemik om ons diepte te toets en om ‘n paar eksperimente te doen. As ons nou net kan leer om konsekwent te wees en elke week met die passie te speel wat gewoonlik net na vore kom as ons tenagekom is of met ons rug teen die muur is. Ons het die spelers, ons het die afrigters, ons het die span. Ons moet dit net elke week kan doen op hierdie standaard en dan het hierdie span die potensiaal om een van die heel grotes te word.



13 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page