top of page
  • Writer's pictureMW Welman

Blitsbokke: So wen ons die Wêreldbeker

Ons kyk na die Sewes Wêreldbeker wat hierdie naweek in Kaapstad plaasvind.


Soos ons weet, is dit afrigter Neil Powell se laaste toernooi as afrigter nadat hy meer as 15 jaar as speler en afrigter by die Blitzbokke betrokke was. Na die toernooi, word hy die Sharks se nuwe direkteur van rugby, so die laaste week was sekerlik vir hom emosioneel maar hy het op ‘n perskonferensie gesê dat hy meer emosioneel was voor die Statebondspele waar die Blitsbokke die goue medalje verower het. Vir hom was die feit dat hy gister vir twee spelers moes sê dat hulle nie aan die toernooi gaan deelneem nie, meer emosioneel maar hy verwag dat die oomblik hom eintlik eers gaan tref as hy sy kantoor vir die laaste keer ontruim.



Die Sewes Wêreldbeker werk bietjie anders as gewone sewes toernooi deurdat dit ‘n uitklop toernooi is, en daar is nie enige poel fases nie. As jy ‘n wedstryd verloor, is jy uit. Dit kan natuurlik ‘n skok of twee tot gevolg hê sou een van die kleiner spanne daarin kan slaag om ‘n groot vis te vang, maar as alles uitwerk soos dit moet, behoort Suid-Afrika teen Fiji te speel in die eindstryd Sondagaand. Om daarby uit te kom moet mens verstaan hoe die toernooi werk.


Die top agt gekeurde spanne gaan outomaties deur na ‘n rondte van 16 wat Vrydag begin, maar daar word eers ‘n vooraf-rondte van 16 gespeel. Van belang vir ons is die wedstryd waar Chile teen Duitsland speel. Die wenner van hierdie wedstryd gaan dan Vrydagaand om 19:03 in die eerste rondte van 16 teen Suid-Afrika speel, en ons hehoort darem hierdie wedstryd maklik genoeg te wen. Duitsland word natuurlik afgerig deur Philip Snyman, ‘n voormalige Blits Bok kaptein wat ‘n bietjie ekstra byt aan die wedstryd sal gee sou ons teen hulle te staan kom.


Ons sal dan in die kwarteindrondte teen waarskynlik Engeland te staan kom. Ierland speel eerstens teen Portugal, en Engeland speel dan teen die wenner van hierdie wedstryd, so daar is ‘n klein kansie dat ons dalk Ierland of Portugal sal speel, maar dis te betwyfel. Die Bokke behoort dan na alle waarskynlikheid 22:33 Saterdag aand teen Engeland op te draf.


Ons behoort Engeland maklik genoeg te kan kafdraf, en dan is ons deur na die semi-finaal wat Sondagmiddag om 12:35 gespeel sal word. Werk dinge uit soos dit moet, sal ons teen of Nieu-Seeland of Argentinië speel. Nie een van die twee spanne gaan maklik besgee nie, en ons het nou die dag in Los Angeles teen die Kiwis verloor. Argentinië is ook gedugte opponente en hulle het vierde in die sewes kampioenskapsreeks geëindig, so of ons hierdie semi-finaal gaan kan wen, is oop vir debat. Hopelik sal die tuisskare ons help om die knoop deur te hak.


Sou ons dan deur wees na die finaal wat Sondagaand om 20:54 gespeel gaan word, behoort ons hier teen Fiji te speel, maar dis ook moontlik dat enigeen van die VSA, Australië of selfs Frankryk hier kan speel sou een van hulle dalk vir Fiji in die semi-finaal kan fnuik. Nou ja Fiji is ons aartsvyande wat sewes rugby aanbetref, Australië is in Los Angeles as die algehele sewes reeks kampioene vir 2022 aangewys en ons het teen die VSA verloor in die eerste rondte in Los Angeles. So elke een van hierdie opponente is meer as gedug, maar ek glo nogal dat die kombinasie van die tuisskare en die emosie van coach Neil se afskeid ons dalk so ekstra hupstoot kan gee.


So, ons het ‘n redelik eenvoudige, maar nie werklik maklike paadjie na die finaal toe, en as ons nou ooit ‘n kans gestaan het om soos Nieu-Seeland in 2018 beide die 15 man en die 7 man wêreldbekers terselfdertyd te hou, is dit nou. Die terugkeer van Cecil Africa, Neil Powell se begeerte om sy termyn op ‘n hoogtepunt af te sluit en die voordeel van ‘n fanatiese tuisskare is alles positiewe faktore wat myns insiens gaan bydra daartoe dat die Blits Bokke Sondagaand as wêreldkampioene gekroon gaan word. Ek dink die atmosfeer in die Kaapstad stadion gaan elektries wees, en ek kan nie wag vir die toernooi om te begin nie.



Die vrouens speel natuurlik ook die naweek in hulle deel van die Wêreldbekeretoernooi, en die afrigter Paul Delport het ‘n hele paar van die 15 man (of is dit nou 15 vrou) bokkies ingebring. Ons spring egter weg met ‘n wedstryd teen die tweede gekeurde Franse en ek is bevrees ons gaan net hier vasval. Maar kom ons kyk, dalk maak die tuisskare hier ook ‘n verskil, mens weet nooit.


Ons praat volgende week weer wanneer ons sal weet of ons dan nou wel dubbele wêreldkampioene is. Ons kan dan ook praat oor die 3e kriekettoets teen Engeland waarvan die eerste dag uitgereën het, en die tweede dag afgestel is na Koningin Elizabeth se dood gister. Daar is die naweek natuurlik ook die Amerikaanse Ope Tennistoernooi se eindrondtes, en die Italiaanse Formule 1 Grand Prix op Monza, so ‘n lekker propvol sportnaweek.




31 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page