top of page
  • Writer's pictureMW Welman

En die Oscar gaan aan...

Wat ‘n rampspoedige naweek vir SA sport! Ons het van die hoogtes van Nelspuit geval na ‘n vernederende nederlaag op ‘n versoolde krietetveld in Aidelaide teen ‘n baie gemiddelde Wallaby span, terwyl die Proteas op tipiese wyse van ‘n beurt en ‘n bietjie oorwinning ineengestort het tot ‘n beurt en baie lopies loesing teen die Engelse. En om die kroon te span, het die sewes sommer in die eerste rondte hulle kanse om die reeks hierdie jaar te wen die nek ingeslaan, en dit nogal nadat hulle die goue medalje op die Statebond spele gewen het. ‘n Baie slegte naweek om ‘n SA ondersteuner te wees


RUGBY


So, wat het in Adelaide gebeur?! Die Bokke het weer traag begin en die Aussies onder die uitgeslape afrigter, Dave Rennie het dit uitgebuit om binne minute met 10-0 voor te loop, en van daar af was dit opvang rugby die heeltyd. Die Bokke het omtrent in die Aussies se kwartgebied geparkeer, maar kon net eenvouding geen hond haaraf maak teen die verbete Aussie verdediging nie. Dat die skeidsregter hopeloos was sal soos suur druiwe klink maar die ou hoort regtig nie in toetsrugby nie. Al wat mens deesdae van ‘n skeidsregter kan verwag is dat hy ten minste konsekwent moet wees, maar hy kon dit nie eers regkry nie. Kyk maar net na die skrum strafskop teen SA toe Ben Slipper, die stut en Aussie kaptein, binne toe geskrum het en die skrum laat val het. Ander dinge wat oop en bloot geignoreer was, was die verskeie duikslae wat Koroibeti sonder arms uitgevoer het, en die Aussies wat male sonder tal in die losskrums oortree. Maar dit tersyde gestel, die skeidsregter was nie die rede hoekom ons al weer verloor het nie.


Nee, daardie blaam moet voor die deur van die afrigter gelê word. SA het nou 3 van ons 6 toetse hierdie jaar verloor, en behalwe vir Nelspruit, lyk ons onseker en weet ons nie hoe om te reageer as dinge nie uitwerk nie. Ander spanne het nou ons skop-en-hoop taktiek uitgefigure, en dit is nie meer naastenby so effektief soos voorheen nie.


En om dan spelers op grond hulle verlede te kies in plaas van huidige vorm, is besig om op skouspelagtige wyse te backfire. Hier praat ek natuurlik van Duane Vermeulen in plaas van enigeen van Jasper Wiese, Elrigh Louw of Evan Roos, Frans Steyn wat Mei maand laas rugby gespeel het en Elton Jantjies, oor wie ek nie veel hoef te sê nie. En is Faf de Klerk op die oomblik beter as Jaden Hendrikse? En laastens, wat op aarde maak Joseph Dweba daar terwyl in vorm spelers soos Johan Grobbelaar van die Bulle daar is? Selfs Deon Fourie sal beter doen as Dweba wat selfs sukkel om sy springers te vind in die lynstane. En Handre Pollard het seker sy swakste wedstryd in jare gespeel, en Rapport het hom tereg na my mening, 1 uit 10 gegee.


Wat staan ons te doen? My voorstelle is die volgende:

Bring Willle le Roux in op 15 en Canaan Moody op vleuel. Speel Willemse op nommer 10, en Jaden Hendrikse op nommer 9. Bring Jasper Wiese terug op nommer 8, en speel dalk vir Kwagga Smith op nommer 7. Lood de Jager lyk of hy lood in sy voete het deesdae, so ek dink Franco Moster moet ‘n kans gegee word. En dan natuurlik dink ek Malcolm Marx moet begin op nommer 2.


My span is dus as volg, inaggenome die spelers wat in Australië is:

15 Willie le Roux

14 Canan Moodie

13 Lukhanyo Am

12 Damian de Allende

11 Makazole Mapimpi

10 Damian Willemse

9 Jaden Hendrikse

8 Jasper Wiese

7 Kwagga Smith

6 Siya Kolisi

5 Franco Mostert

4 Eben Etzebeth

3 Frans Malherbe

2 Malcolm Marx

1 Ox Nche


Plaasvervangers:

Steven Kitshoff

Vincent Koch

Deon Fourie

Salmaan Moerat

Duane Vermeulen

Faf de Klerk

Handre Pollard

Warwick Gelant


Laat weet ons wat julle dink in die kommentaar, en sê hoe jy dink die span moet lyk


SEWES RUGBY


Die Sewes Bokke het nie veel beter gevaar in Los Angeles nie. Hulle was slegs twee punte voor Australie op die ranglys, en kon hierdie naweek afgesluit as die 2022 reeks kampioene. Hulle was egter in ‘n baie taai groep geloot met die VSA, Nieu-Seeland en Kanada, en kon slegs naelskraap teen Kanada wen, wat beteken het hulle het derde in die groep geeindig en so hulle kanse op ‘n reeksoorwinning verspeel.


Enigeen van Australië, Argentinië of Fiji staan nog ‘n kans om vandag as reeks kampioene gekroon te word.


KRIEKET


Nou oor na nog ‘n treurmare, met die Proteas wat na laasweek se indrukwekkende vertoning, in duie gestort het en die Engelse wat die reeks gelykop gemaak het. Wat Dean Elgar besiel het om eerste te kolf sal net hy weet maar ons het duur betaal vir daardie besluit. Die besluit om Simon Harmer in te bring in die veelsydige en belowende Marco Jansen se plek was nog ‘n raaisel, met die Fearsome Foursome wat laasweek soveel vrees ingeboesem het.


Na die eerste dag se spel was ek nog vol hoop dat die Engelse in toom gehou kon word, maar nadat hulle 415 verklaar aangeteken het het hierdie hoop beskaam. Ons boulers het geswoeg met Nortje wat drie paaltjies geneem het, maar kon nie Engeland genoeg beteuel nie, en ons het behoorlik in die tweede beurt gevou, met slegs Keegan Petersen en Rassie van der Dussen wat hond haarafgemaak het. Van der Dussen het ook soos 'n wafferse Graeme Smith met ‘n gebreekte hand gekolf, en hy is uit die laaste en beslissende toets wat op 8 September begin.


Sal die Proteas hierdie wa deur die drif kan trek en die reeks in Engeland wen? Hulle het gewys hulle kan maar die Engelse is op die voorvoet en dit sal ‘n spesiale poging verg om dit reg te kry.


NETBAL


Om mee af te sluit, darem so bietjie goeie nuus – die Proteas netbalspan het teen hul aartsvyande, Malawi geseëvier met 60-44 in die Afrika kwalifiserende toernooi vir die Wêreldbeker. Hulle het ook die toernooi onoorwonne afgesluit met ses oorwinnings, en gaan dus saam met Zimbabwe, Malawi en Uganda volgende jaar as Afrika se verteenwoordigers aan die Wereld beker toernooi deelneem.


Nou ja, kom ons hoop volgende naweek gaan dinge beter op die Suid-Afrikaanse sportfront. Dit kan wraggies nie veel slegter as hierdie naweek s’n wees nie!

16 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page