top of page
  • Writer's pictureIzak du Plessis

ANC in die moeilikheid, maar Cyril staan sterker as ooit

Die ANC het in ‘n dramatiese ommeswaai besluit om sy lot in die hande van die Konstitusionele Hof te plaas, in plaas van om ‘n aansoek voor die kieshof te bring dat die verkiesingskommissie sy registrasieproses van kandidate vir die komende verkiesing moet heropen. 


Die Konstitusionele Hof oorweeg tans ‘n aansoek van die verkiesingskommissie om die verkiesing, wat vir 27 Oktober geskeduleer is, uit te stel na Februarie volgende jaar.


Die party se woordvoerder, Pule Mabe, het die party se besluit in ‘n mediaverklaring bevestig.


Volgens hofstukke kon die ANC in 93 van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite nie betyds kandidate vir die plaaslike verkiesing registreer nie. Volgens Jessie Duarte, die ANC se adjunksekretaris-generaal, sou dit beteken dat die party in 35 munisipaliteite uitgestem word, of sy status as amptelike opposisie verloor het, sonder dat enige stem uitgebring is.


Ontleders en kommentators is hard aan die gis oor die moontlike redes vir die ommeswaai van die regerende party. Die moontlikheid dat die ANC ‘n voëltjie hoor fluit het dat die Konstitusionele Hof dalk wel die verkiesing gaan laat uitstel, is ook geopper.


Nuuspod het die vraag aan Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan Noordwes Universiteit gevra.


Volgens Croucamp is die soort gissings onsinnig.


“Die Konstitusionele Hof het nog nooit in sy bestaan enige van sy beslissings voortydig laat uitlek nie. Hoekom nou die integriteit van die hof bevraagteken?” wil Croucamp weet.


“Ek dink die enigste rede waarom die ANC hulle aansoek teruggetrek het, is omdat dit sinneloos is om iets te doen wat geld gaan kos, wat hulle nie het nie.”



Croucamp beskou die soort gissings as populistiese nonsens.


“Ek dink dis net tegnies goed wat hier afspeel, hier is absoluut geen gronde vir ‘n samesweringsteorie nie,” het hy bygevoeg.


Maar die ANC is in verskriklike groot moeilikheid, meen Croucamp.

Die party gaan gebuk onder gebrekkige administrasie, faksieverdelings, geldelike probleme en politieke moorde.


“Kortom, die ANC het nie die hulpbronne wat nodig is om die komende munisipale verkiesings suksesvol aan te pak nie,” sê Croucamp.


Maar wat wag dan vir die party as die verkiesing nie uitgestel word nie?


“In 2016 het die ANC net 22% van stemgeregtigde kiesers se steun getrek. Nou kyk ons na 17, en 16, en 15 persent,” antwoord Croucamp.


“Hieruit behoort jy al jou vrae oor die toekoms van die party te kan beantwoord.”


Dit is egter ‘n ope vraag of die ANC se treurmares goeie nuus vir Suid-Afrikaanse kiesers inhou. Croucamp meen nie so nie, aangesien daar nie regtig ‘n werkbare alternatief is nie.


“Ten spyte daarvan dat die DA uitstekend regeer en bestuur waar hulle aan bewind is, is die party sy eie groot vyand weens kortsigtige leierskap,” sê Croucamp. “Die party se aandrang dat ras nie belangrik is nie, gaan hom duur te staan kom, en hy gaan swakker doen as in die vorige verkiesing. Koalisies gaan ‘n groot rol na die komende verkiesing speel.”


Volgens Croucamp het die Vryheidsfront Plus dit reggekry om “hul identiteit as regse party af te skud en ‘n stewige konserwatiewe beeld te bou”, wat tot die party se voordeel in die verkiesing sal wees, tot nadeel van die DA.



Die EFF is deur die Covid19 pandemie van sy teater, die parlement, ontneem, en hy kry nie meer die aandag in die media wat hy vantevore gekry het nie. Croucamp meen die party behoort so klein bietjie slegter in die komende verkiesing te vaar.


Wat president Cyril Ramaphosa se posisie in die ANC betref, is Croucamp oortuig daarvan dat die president nog nooit met sy rug teen die muur was nie, en dat hy nou selfs sterker as voorheen staan. Volgens Croucamp het hy die top ses van die ANC in sy kamp en is sy posisie veilig.


“Ek sal nie verbaas wees as hy onbestrede vir ‘n tweede termyn verkies word nie,” sê Croucamp.

40 views0 comments
bottom of page