Sommige gefrustreerde Suid-Afrikaners beskuldig president Cyril Ramaphosa van lamsakkigheid na sy kabinetskuiwe. Volgens hulle is Ramaphosa se aanstellings 'n bewys daarvan dat hy die ANC bo die land se belange dra. Maar Prof Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa, sê die skuiwe is 'n bewys dat Ramaphosa 'n baie slim taktiese spel speel om sy houvas as president te verstewig.
Hy steur hom nie veel aan sosiale media nie, want jy kan nie iets soos ‘n kabinet op onlogiese instinkte kies nie, sê prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa.
Kotzé het so gereageer na kritiek teen president Cyril Ramaphosa se kabinetskuiwe die afgelope week.
Talle Facebook- en Twittergebruikers het hul teleurstelling uitgespreek omdat die minister van polisie, Bheki Cele, en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, nie die trekpas gegee is nie. Die twee het hulle die argwaan van talle Suid-Afrikaners op die hals gehaal weens hul hantering en drakoniese afdwinging van die Covid19-inperkingsmaatreëls sedert Maart verlede jaar.
Boonop is die aanstelling van Enoch Godongwana as minister van finansies in die plek van Tito Mboweni ook erg gekap. Sommige kommentators het selfs geïnsinueer dat dit moontlik ‘n naweekaanstelling kan wees, met verwysing na die kortstondige aanstelling van Des van Rooyen in die plek van Nhlanhla Nene op 9 Desember 2015 deur oudpresident Jacob Zuma.
Volgens Kotzé dra die meeste van hierdie kritiek nie water nie.
“Daar moet baie meer diepliggend gekyk word na wat werklik besig is om te gebeur. Dit verg grondiger ontleding as bloot die menings van mense op sosiale media,” sê Kotzé.
“Jy moet onthou dis ‘n kabinetsverandering na ‘n periode van twee jaar. Behalwe in die tyd van Zuma, is kabinetskuiwe ‘n skaars item. Dis nie iets wat baie dikwels plaasvind nie. Dis ‘n perspektief wat ons in gedagte moet hou met die skuiwe wat Ramaphosa gemaak het,” voeg hy by.
Kotzé sê twee aspekte, die gevolge van die pandemie en die onluste van die afgelope tyd, was moontlik die dryfkrag vir die veranderinge aan die kabinet. ‘n Mens moet ook die vakatures wat ontstaan het, na die dood van Jackson Mthembu, asook die bedanking van Mboweni en die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, hierby inreken.
Hy is egter verras deur die feit dat elf portefeuljes deur die veranderinge geraak is.
“Ek het gedink dit gaan meer fokus op die sekuriteitsportefeuljes, maar wat ons nou sien is ‘n baie wyer kyk daarna, en boonop het die faksieverdeling tussen die Zuma/Ramaphosa groeperinge nie rol gespeel nie, behalwe in die geval van Ayanda Dlodlo,” sê Kotzé.
Volgens Kotzé is dit egter duidelik dat die versterking van sekere portefeuljes ‘n groot rol gespeel het in Ramaphosa se aanstellings.
“Dit het begin by finansies, wat vir almal ‘n verrassing was, en dan het die sekuriteitsaspekte ook ter sprake gekom, op ‘n wyse wat hopelik tot voordeel van die regering se funksionering sal wees,” sê hy.
Volgens Kotzé kon Ramaphosa ná die onlangse verwoestende onluste en plundertogte in KwaZulu-Natal en Gauteng nie anders nie as om groter beheer oor SuidAfrika se intelligensie- en veiligheidsdienste te neem.
“Die skommelinge is nie soseer gedoen om sy politieke posisie in die ANC te verbeter nie; dit gaan eerder daaroor om belangrike portefeuljes in sy kabinet te versterk,” sê Kotzé.
Volgens Kotzé is daar nie meer baie Zuma-ondersteuners in die kabinet oor nie en het Ramaphosa dus die oorgrote meerderheid van sy skuiwe gemaak om belangrike portefeuljes te versterk om die Covid-19-pandemie te oorkom en om die ekonomie aan die gang te kry.
Kotzé sê Ramaphosa se sukses as president tot dusver moet bepaal word deur dit te vergelyk met die Zuma-era.
“Wat ons die afgelope drie, vier jaar gesien het is iets anders. President Ramaphosa is baie duidelik besig met hervorming. Jy sien nie altyd dadelik die veranderinge nie. Maar mettertyd sien jy dit een vir een, soos wat hy sy teenstanders verlam en sake verbeter,” sê Kotzé
Kyk na die onderhoud vir ‘n volledige weergawe van Kotzé se ontleding
Comments