top of page
  • Writer's pictureIzak du Plessis

Zuma stuur liefde en groete




Izak gesels met Mzwanele Manyi, woordvoerder van die Jacob Zuma Foundation oor die voormalige president se omstrede parool


Vir die meeste Suid-Afrikaners is dit nie 'n baie groot verrassing dat oudpresident Jacob Zuma mediese parool gekry het nadat hy skaars 'n tiende van sy 15 maande lange vonnis uitgedien het.


Zuma se tronkstraf is die gevolg van minagting van die hof, nadat hy nie 'n bevel van die Konstitusionele Hof nagekom het om voor die Zondo-kommissie te getuig nie.


Talle mense het sy vrylating voorspel die dag toe die tronkdeure agter Zuma toegeslaan het. Die departement korrektiewe dienste se verklaring verlede maand dat hy in 'n hospitaal opgeneem is, het die skeptici se vermoedens net verder versterk.


Mzwanele Manyi, woordvoerder van die Jacob G. Zuma-stigting, sê dit is onregverdig dat niemand wil glo Zuma is siek nie. Hy wil ook nie besonderhede verskaf nie, met die verskoning dat dit persoonlike inligting is.


Daar is heelwat gissings dat Arthur Fraser, voormalige spioenbaas en deesdae nasionale kommissaris van korrektiewe dienste verantwoordelik is vir Zuma se parool, aangesien die twee ‘n goeie verhouding het.

Volgens Beeld se berig hieroor, ontken die departement van korrektiewe dienste die bewering. Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, is dit nie moontlik dat Fraser alleen kon help om vir Zuma parool te reël nie.


Zuma het ’n lang verbintenis met Fraser. Fraser was hoof van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) onder Zuma se presidentskap.



Daarom skryf Daily Maverick in hulle beriggewing oor die kwessie dat Fraser vir seker kennis moes gedra het van die parool. Fraser moes die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, inlig oor die parool en Lamola moes die president inlig, soos wat deur die presidensie bevestig is, aldus Daily Maverick se berig.


Dit is verder so dat Fraser deur Ramaphosa aangestel is en aan hom en Lamola rapporteer. Fraser en Lamola het vir Ramaphosa op hoogte gehou oor Zuma se mediese toestand na hy in die hospitaal opgeneem is.


Manyi sê hy is ingenome met die Suid-Afrikaanse regstelsel.


“Ons sit hier met ‘n man van byna 80 jaar oud, wat sonder ‘n behoorlike verhoor verguis en aangehou word, en nooit kans gehad het om sy saak te stel nie, ‘n produk van die uiterste vorm van ongeregtigheid. Daarom is president Zuma se mediese parool iets waaroor ek baie tevrede is,” sê Manyi.

Manyi ontken dat Fraser aandadig is aan Zuma se vrylating.


Die ANC het Zuma se vrylating verwelkom.


“Ons verwelkom die ruimte wat aan oudpresident Zuma gegun word om met sy familie herenig te word en te herstel,” het die ANC se woordvoerder, Pule Mabe, gesê.



Maar die leier van die DA, John Steenhuisen is nie tevrede met die verloop van sake nie. “ Ek gaan die

komitee oor justisie en korrektiewe dienste versoek om Arthur Fraser te ontbied om self aan die parlement te kom verduidelik hoekom hy mediese parool toegestaan het,” het Steenhuisen in ‘n verklaring te kenne gegee.


In ons tweede onderhoud oor die saak, laat Dr. Llewelyn Curlewis egter blyk dat Zuma se parool tegnies gesproke nie mediese parool is nie. Die verklaring is so verwoord dat dit eerder klink of Zuma as gevolg van sy mediese toestand op parool is, eerder as op mediese parool.


Volgens Curlewis verleen die omstandighede rondom die kwessie die reg aan Suid-Afrikaners om skepties oor die saak te wees.

40 views0 comments
bottom of page