top of page
Writer's pictureIzak du Plessis

SA se eerste transgender huwelik

Deur Pierre-Jeanne Gerber





NG-GEKERKTE TRANSGENDER TROUE 50-JAAR GELEDE: 15 MEI 1971 – 15 Mei 2021

Met die transgender-debatte wat tans by sommige tersiêre instellings heers en die uitdagings rakende die potensiële aanspreekvorme, soos bespreek op een van die week radioprogramme, en die breër LGBTQ debat, het my gedagtes sommer teruggegaan na so 50 jaar gelede. Vandag, nogal presies 50 jaar gelede. Skuins oorkant die pastorie in Kraaifontein, op die h/v 7de Laan en Skoolstraat was die “Kleinkafee-tjie” van Oom Le Roux. Dis vandag ‘n Kerk. Ek het daar gewerk Saterdae in Sub-A. Moes elke Saterdag-oggend die brood in die plastieksakkies insit vir ‘n 5-sent en ‘n “doughnut” as dagloon. Die “doughnut” het ek as ‘n bonus onderhandel. Jy het die brood ingesit en dan die sakkie so drie keer bollemakiesie geswaai en dan het jy die gevormde oortjies kon knoop. Een Saterdag was daar, glo as gevolg van die oliekrisis, sulke vaal dun plastieksakkies. Met die eerste swaai, toe trek die eerste brood doer anderkant en toe moes ek skielik ‘n ander tegniek uitwerk! Saam met ons daar het so ‘n groot growwe lang ou semi-permanent gewerk, maar agter die toonbank. Gerrit De Jager. Hy was al klaar met skool. Sy Ma-hulle se huis was langs die kafeetjie, op die hoek. Hy het party dae soos ‘n vrou aangetrek, met hoë hak skoene, “pantihose” kouse, “make-up”, rooi lippe en ‘n pruik. En heel onnatuurlik die growwe stem met die adamsappel. Ek onthou die lang donkerrooibruin beenhare het nog party dae so stokkiesrig uitgesteek deur die sykouse. Ons was klein, maar ons het geweet hoe werk die tamatie, so agter die hande gepraat, maar ons het nie lekker geweet wat nog als sou gebeur op sy pad vorentoe nie. Toe het hy net eendag ophou werk daar en ons het hom vir lank nie weer gesien nie. Die volgende was toe my Vader vir my sê dat die man nou ‘n vrou is, na ‘n paar baie delikate operasies, en dat hy(sy) nou wettig gaan trou met sy(haar) man en dat hulle my Vader gevra het om hulle in die Kraaifontein NG Moederkerk in die huwelik te bevestig. Gerrit was nou Mardene. My Vader het hom destyds gekatkiseer en aangeneem en die hele gesin was lidmate. My Vader het nie ‘n probleem daarmee gehad nie. Hy het die aangeleentheid genoem aan die Kerk se ringkoppe en daar was duidelik groot onsekerheid oor hoe om die saak te hanteer aangesien daar nog nooit so ‘n troue in SA plaasgevind het nie, “nevermind” Kraaifontein! Hy het egter aan hulle gesê dat op die “man” se nuwe ID staan dat “hy” nou vroulik is met ‘n nuwe vroulike naam en dus is dit nou ‘n normale huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou, finish en klaar. Om alles te kroon het my Vader die dokters wat die delikate operasies en prosedures uitgevoer het, ook geskakel en hulle het aan hom al die tegniese detail verskaf oor hoe die vurk nou in die hef steek. Daar was ongelooflike media belangstelling oor die troue en daar was selfs ‘n oorsese televisie span vanaf Amerika wat die huwelik in die Kraaifontein Kerk kom verfilm het, aangesien dit klaarblyklik die eerste transgender-huwelik in die wêreld was! Daar was sulke groot lang boksvormige televisie kameras op die galery gemonteer, soos ons daai tyd langs die toetsrugbyvelde gesien het. Die plaaslike media (Rapport) het ‘n groot artikel daaroor gehad op die veelbesproke agterblad van destyds! Ons as gesin het egter nêrens ‘n kopie van die “Rapport”-berig gehad nie omdat my Moeder destyds vir baie lank in die Karl Bremer Hospitaal opgeneem is en die huwelik het in die tyd plaasgevind. Sy het altyd die koerant beriggies uitgeknip en gehou van die troues en sulke dinge. Destyds het die nuutgetroudes baie keer ‘n konsistorie-foto, waar hul die huweliksformulier in die teenwoordigheid en wakende oog van die stanende dominee agter die egpaar teken, laat plaas in die Saterdag “Burger” se Byvoegsel. Met die holruggeryde LGBTQ debat oor gay dominees en gay lidmate en gay troues het ek egter besluit om die koerantberig te gaan opspoor om net vir al die beswaardes te wys dat daar al in 1971 (50 jaar gelede) ‘n huwelik uit hierdie dampkring plaasgevind het wat gate skiet in van die argumente van die beswaardes en dat daardie Rubicon tegnies al 50 jaar gelede oorgesteek is in die NG kerk. Destyds was my Vader se medeleraar in Kraaifontein ook gay en dit was ‘n ope geheim. Daar was selfs hoogs professionele bekende mense wat destyds in Kraaifontein kom bly het (weggekruip het) want daar was hulle minder sigbaar tussen die “openbare” oë. My Moeder het by die een se lewensmaat blommerangskikkingsklasse geneem wat hy aangebied het, selfs in die pastorie. Van sy indrukwekkende skilderye is reg oor SA versprei, selfs in Brittanje. Na ‘n reuse soektog het ek ‘n kopié van die berig opgespoor in die argiewe van die Parlementêre Biblioteek. Die wonderlike werk wat Karen Cronje vir jare al doen om Kraaifontein en Touwsrivier se geskiedenis te boekstaaf het ook baie bygedra om my te motiveer om die berig te gaan opspoor!

29 views0 comments

Comments


bottom of page