top of page
  • Writer's pictureIzak du Plessis

Wanneer die stilte soen soos iemand wat jou liefhet.


Dag 3 op Brandvlei. Die stilte het my vanoggend soos 'n geliefde in my nek gesoen. So asof sy net hier langs my wakker geword het. Ek is gewoond, selfs verslaaf, aan stilte, ek ry immers baie rond op plekke waar baie mense nie kom nie. Maar my gedwonge oorstaan moes my sintuie skerper ingestel het, want die stilte se kus was diep en innig vanoggend, en ek kon haar asem ruik, vol van die Boesmanland se snuifgebrande veld en die gulheid van dié wêreld se mense. Ek het gistermiddag skaapstertjies geëet en wyn gedrink by die dominee. Gisteraand moes ek, nog dikgevreet, aansit vir 'n Sondagmiddagmaal (ja, 8-uur in die aand) saam met twee jong manne van die omgewing. Ons het brannas en Coke gevat, en skaaptjops uit die Boesmanland geëet, opgedien saam met pampoen, rys, kool, botterskorsies met mielies en kaas en baie gesels. Nou wag ons vir een klein onderdeeltjie wat 240 km verder op Upington (dalk) beskikbaar is. Dis die crankshaft seël, 'n klein, ronde rubberseël, maar jy moet daai seël basies uit die dieptes van jou enjin oopgrou om hom in die hande te kry. En dan kom die terugsit. En hier op Brandvlei is nie 'n mechanic met 'n workshop soos in die stad nie. Hier bly 'n paar manne met 'n toolbox of drie wat sommer daar innie jaart gou vir jou die dinge uitsorteer. Maar dis regtig nie vir my 'n krisis nie. In my hart is daar 'n vrede wat alle vrede oortref, want die stilte hier soen soos iemand wat jou liefhet.

13 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page