top of page
  • Writer's pictureIzak du Plessis

Waar in die wêreld is David Mabuza?




Die adjunkpresident, David Mabuza het op 26 Junie ‘n paar dae verlof geneem om mediese behandeling in Rusland te kry. Na meer as ‘n maand is hy nog nie terug nie. Izak du Plessis het aan Jan-Jan Joubert gevra wat moontlik die motivering vir Mabuza se besoek aan Rusland kan wees.


Suid-Afrikaners het die reg om te weet waar adjunkpresident David Mabuza hom bevind en hoekom hy mediese behandeling in Rusland, in pleks van Suid-Afrika kry, want ons betaal sy salaris.


Dit is die mening van die politieke kommentator en parlementêre verslaggewer, Jan-Jan Joubert.

Joubert het gereageer op navrae oor waar Mabuza hom sedert 26 Junie bevind.

Volgens ‘n verklaring van die Presidensie op 26 Junie het Mabuza ‘n paar dae verlof aangevra.

Hy is sedertdien nog nie weer gesien nie. Die DA se woordvoerder oor die Presidensie, het toe ‘n brief aan die adjunk-speaker, Lechesa Tsenoli, geskryf om ‘n volledige verslag aan te vra oor waar die adjunkpresident is.

“Die Presidensie het op 26 Junie bekendgemaak dat Mabuza ‘n paar dae se verlof aangevra het vir mediese behandeling in Rusland,” sê Joubert.

“Maar meer as ‘n maand later lyk dit eerder of Mabuza vir ‘n plesierrit Rusland toe is,” voeg hy by.

Volgens Joubert kan ‘n mens in die lig hiervan nie anders nie as om Mabuza se geskiktheid vir sy amp te bevraagteken.

“As ‘n mens in ag neem dat hy die voorsitter is van die interministeriële komitee wat verantwoordelik is vir die verspreiding van entstowwe, die kabinet se spesiale komitee vir Eskom lei, en dat hy aan die hoof is van regeringsake, is dit nie ‘n onbillike vraag nie,” sê Joubert.


Joubert eggo die mediaverklaring van die DA as hy erken dat Mabuza geregtig is op privaatheid oor sy gesondheid. Hy meen egter dat die hoogs ongewoon is dat Mabuza na Rusland moet reis vir mediese behandeling, aangesien hy wêreldgehalte behandeling net hier in Suid-Afrika kan kry.

“Die adjunkpresident het voorheen in 2015 en 2018 mediese behandeling in Rusland ontvang, wat die Suid-Afrikaanse belastingbetaler baie geld uit die sak gejaag het,” onderstreep Joubert die verklaring van die DA.

Mabuza het destyds, soos nou, ook spoorloos verdwyn, tot die argwaan van talle Suid-Afrikaners.

Volgens die DA se mediaverklaring is Mabuza veronderstel om oop kaarte met Suid-Afrikaners te speel en moet hy die ware redes vir sy geheimsinnige reis na Rusland verskaf.

“Besoek Mabuza Rusland regtig net vir mediese redes, of is dit sy slinkse manier om die gebroke verhouding met Rusland se president te herstel na die mislukte kernenergie-transaksie,” vra Malatsi.

Joubert voeg by dat Mabuza se verdwyning tydens die gewelddadige betogings in KwaZulu-Natal en Gauteng, nog ‘n kinkel in die politieke kabel is.


“Mabuza is nie baie aktief in sy amp nie, en hy het voorheen al hieroor gekla. Ek hoop net vir president Cyril Ramaphosa se onthalwe dat hy nie besig is om Mabuza doelbewus op die kantlyn te stoot nie, want die betogings het gewys dat sy (Ramaphosa) se steun nie sterk genoeg is in belangrike provinsies soos KwaZulu-Natal en Gauteng nie,” sê Joubert.

“Ramaphosa moet onthou dat Mabuza regstreeks daarvoor verantwoordelik was dat hy (Ramaphosa) in 2017 by die ANC se nasionale verkiesingskongres president van die ANC geword het.”

Mabuza het destyds in ‘n dramatiese ommeswaai die ANC in Mpumalanga gemobiliseer om vir Ramaphosa, eerder as Nkosazana Dlamini-Zuma te stem. Dlamini Zuma het 239 stemme gekort om as oorwinnaar uit die stryd te tree.


Dit word gesê dat Mabuza oudpresident Jacob Zuma belowe het om sowat 2 500 afgevaardigdes na die kongres te bring om te verseker dat Dlamini-Zuma sal wen. Mabuza het daarin geslaag om die 2 500 stemme bymekaar te maak, maar volgens Joubert het sy slim voetwerk gesorg dat hy as adjunkpresident verkies word, en dit is iets wat Ramaphosa nie moet vergeet nie.

Daar word intussen berig dat Mabuza vandeesweek terug in die land is, maar hy is nog nie met ‘n oog gesien nie.

Malatsi het aan Nuuspod bevestig dat hy ‘n brief aan Tsenoli gestuur het, maar nog geen antwoord gekry het nie.

Kyk na die video vir die volledige onderhoud.


64 views0 comments

Comments


bottom of page