top of page
  • Writer's pictureIzak du Plessis

Onluste het min met armoede te doen en alles met onbestendigheid


Ek het nou lekker lank gedink, en gesels, oor die onlangse onluste na die inhegtenisneming van oudpresident Jacob Zuma. Partykeer help dit om eers afstand te kry voor jy jou oor iets uitlaat. Hier is 'n paar waarnemings wat ek gemaak het, na 'n diep gesprek met my vriend Henk Frey.


1. Daar was geen georkestreerde poging teen die staat nie, ons gee daai mense hopeloos te veel krediet. Daar was hoogstens 'n paar belanghebbendes wat 'n vuurtjie hier en daar aangesteek het, en dit nie aan die brand kon hou nie. As 'n georkestreerde opstand so maklik deur 'n hopelose polisie- en weermag in die kiem gesmoor kan word, dan was dit in elk geval 'n bitter swak beplande een wat niemand hoef te vrees nie.


2. Die slimste deel van die "georkestreerde aanslag teen die staat"-narratief, was toe die regering dit aangegryp het as 'n verskoning waarom hulle geen beheer daaroor gehad het nie. Gee hulle krediet vir die stukkie voetwerk.


3. Die polisie is, met die uitsondering van 'n paar edel individue, met permissie gesê, 'n spul korrupte, onbruikbare bloedsuiers wat 'n salaris wil verdien en geen diens lewer nie. Dit is 'n ope vraag hoe Suid-Afrikaners se toekoms lyk met die klomp swape wat daarop aanspraak maak dat hulle die land se veiligheid op die hart dra, as hulle nie eers kon agterkom 'n paar Zuma-cronies wil amok maak nie.


4. Armoede is nie die rede vir onbestendigheid in die land nie. Dermiljoene mense wêreldwyd is arm, maar hulle neuk nie die strate in en brand en breek alles af omdat hulle arm is nie. Die kwessie lê baie dieper as dit. Dwarsdeur die geskiedenis van die mensdom is daar net een ding wat mense genoeg die josie in maak om te breek en brand en in opstand te kom vir elke bakatel, en dit is 'n onbestendige regering, 'n regering wat net na sy eie belange omsien, 'n regering wat nie die diens lewer wat hulle moet lewer aan mense nie. Onreg teen 'n land se burgers, dit is wat mense moerig maak, nie armoede nie.


5. Verreweg die meeste mense in Suid-Afrika wil in vrede met mekaar leef. Nie almal is keiharde rassiste wat mekaar niks in die lewe gun nie. Oor kleurgrense heen is mense bereid om saam te staan en dit wat vir hulle belangrik is te beskerm teen die boewe wat die huidige politieke klimaat oplewer. Dis net in die raadsale van die regering en die studeerkamers van sommige ontleders wat rassisme 'n kwessie is. Hier onder op die grond verstaan die meeste van ons mekaar goed genoeg om dinge te maak werk.


6. Die meeste ontleders, koerante, radiostasies, nuuskanale, Nuuspod inkluis, gee die ANC hopeloos te veel krediet deur die party se politiek dag na dag te ontleed deur middel van allerhande wetenskaplike beginsels. Daar is niks om te ontleed nie. Met die uitsondering van 'n paar individue is die ANC 'n straatbende wat in beheer van die land geplaas is en alles verorber waarop hulle hul hande kan lê. Selfs te midde van die grootste ondersoek na korrupsie in menseheugenis, staatskaping (bid jou aan!) kan hulle hulself nie keer nie en gaan die stroping van staatskaste net voort.

7. Dis nie die ja-stemmers se skuld dat ons sit waar ons sit nie. Jy kan nie van die oplossing 'n probleem maak nie. Dis gewoon onsinnig om te dink ons sou iets anders kon beding. Die probleem is dus nie deur die ja-stemmers geskep nie. Die probleem is geskep kort daarna toe die hele lot van ons agteroor gaan sit het en die staat nie tot verantwoording geroep het nie. Nee-stemmers het hulle verlekker in dit wat hulle wou hê moes gebeur, en ja-stemmers het gedink hulle verantwoordelikheid hou op by daardie stem wat hulle uitgebring het, en die hele Suid-Afrika het opgegaan in die euforie van Madiba, in plaas daarvan om die mense wat ons moet dien, aan die korthare by te kom.


8. Wat is nou die oplossing? Ek dink nog bietjie daaroor.

90 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page