• Izak du Plessis

Nuusdag 9 November 2021

In die Nuus:

Eskom stort nie totaal in duie nie, maar het ernstige probleme

Die vriend van ‘n vermoorde vrou van Trichard handig homself oor aan die polisie

Vragmotorbestuurder vir fietsryrer se dood Action SA bereid om opposisie te wees Mantashe roskam wêreldleiers oor kragdruk Voëlgriep sleep voor in Wes-Kaap Eskom benodig dringend 4000 tot 6000 MW om die bestaande netwerk aan die gang te hou. Die uitvoerende hoof van Eskom Andre de Ruyter het die inligting vanmiddag tydens ‘n mediakonferensie bekend gemaak toe hy en sy direksie die stand van sake by Eskom aan die groot klok gehang het. Die probleem lê egter nie net by die kragvoorsiener se onvermoë om aan die vraag te voorsien nie, sê De Ruyter. ‘n Tekort aan geld vererger die probleem. Boonop doen sekere munisipaliteite ook nie hulle deel met beurtkrag nie en plaas sodoende die res onder druk. As gevolg hiervan moes Eskom die intensiteit van beurtkrag verhoog het, aldus De Ruyter. Verdere probleme sluit in uitdagings by verskeie aanlegte soos Kendal en Koeberg asook die ontploffing by Medupi. Selfs Lethabo, die betroubaarste aanleg in Eskom moes die laaste twee weke met slegs drie eenhede bedryf word. Ten spyte van al die probleme het De Ruyter aangekondig dat Suid-Afrikaners binne die volgende paar dae verligting sal kry ten opsigte van die toepassing van beurtkrag. Intussen het die grootste vakbond by Eskom vandag geëis dat André de Ruyter as uitvoerende hoof van Eskom bedank. Die National Union of Mineworkers sê De Ruyter, sy bestuurspan en die Eskom-direksie is onbevoeg en nutteloos en moet bedank. Die vakbond eis ook dat die regering die kragkrisis tot nasionale noodtoestand verklaar, aldus die waarnemende hoofsekretaris William Mabape. Die ekskêrel van ‘n vermoorde vrou van Trichardt is vanoggend in hegtenis geneem in verband met haar moord. Christopher Stoffie Graham Watson het vanoggend om kwart voor sewe by die Norkem Park polisiekantoor aangemeld. Dit volg na die dood van Angelique Fourie Sondagaand in haar woonstel. Volgens berigte het die paartjie by ‘n kuierplek op Trichard aan die baklei geraak. Die bakleiery het gewelddadig geraak by haar huis waarna die woonstel glo aan die brand gesteek is om bewyse te vernietig, waarna Watson verdwyn het en eers weer vanoggend by die polisiestasie gesien is. ‘n Sestigjarige vragmotorbestuurder is in hegtenis geneem in verband met die dood van die 18 jarige Nathan Greyling van Hennenman in die Vrystaat, het Netwerk24 vroeër berig. Nathan is laas Maandag as vermis aangemeld en sy lyk is die oggend om eenuur langs die pad buite die dorp gekry. Hy het blykbaar langs die pad geloop en is van agter getref. Volgens die polisie het hulle stukke van ‘n voertuig se koplamp op die toneel gekry. Die vragmotorbestuurder is gister in hegtenis geneem en sal more, Woensdag, in Hennenman op aanklag van strafbare manslag in die hof verskyn. Nathan is Saterdag begrawe. Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, ontken dat sy party daarop aandring om die burgemeester van Johannesburg te word as voorwaarde vir ‘n koalisie in die stad. Mashaba het vroeer vandag tydens ‘n perskonferensie gesê dat sy party hier is om te dien en nie om poste te beklee nie. Mashaba sê sy party het van die begin af gesê hy wil nie ‘n opposisieparty wees nie. Die werklikheid is egter dat hy in Johannesburg net 16 persent van die stemme gekry het. Dit is nie genoeg om ‘n regering te vorm nie. Maar geen party in Johannesburg kon ‘n volstrekte meerderheid behaal nie en ‘n koalisieregering is nou die stad se voorland. Volgens Mashaba is hy tevrede om in die opposisie te wees as hy nie deel kan wees van die koalisieregering nie. Die minister van minerale en energiesake, Gwede Mantashe het ‘n beroep op Afrikalande gedoen om dringend ‘n verenigde front te vorm teen internasionale druk om vinnige besluite oor fossielbrandstof te neem. Mantashe het vroeer vandag by die Afrika Energiekonferensie in Kaapstad gepraat en gesê die wêreld bemoei hulle te veel met Afrika om weg te beweeg van ryk olie en gashulpbronne. Volgens Mantashe is Afrika een van die kleinste besoedelaars wat nou die skuld moet dra vir die sondes van ander lande. Mantashe se oproep plaas hom lynreg in opposisie met president Cyril Ramaphosa se oproep tot Suid-Afrikaners om groenkrag so gou as moontlik ‘n werklikheid te maak. Volgens Mantashe is internasionale ooreenkomste om weg te beweeg van fossielbrandstof ‘n hol gebaar wat erens tot ‘n einde sal kom. Die voortslepende voëlgriepuitbreking in die Wes-Kaap is besig om uit te brei en selfs dooie robbe word nou langs die kuslyn opgemerk. Meer as 18 000 voels is sedert Oktober geraak. Maar volgens die omgewingsdepartement van die Wes-Kaap raak die situasie tog beter. Volgens James Brent Styan van die departement word daar nie meer virusgevalle aangemeld nie. Maar hulle is bekommerd oor die sterwende robbe aangesien die huidige sterftes die normale syfers oortref. Volgens Brent-Styan probeer hulle vasstel wat die oorsaak kan wees.



9 views0 comments