top of page
  • Writer's pictureIzak du Plessis

Moenie drognuus teen die DA inspan nie

Die verkiesing kom nader en ek sien die groot gewere, op en van die slagveld af, word uitgehaal om die DA mee te peper. Die DA is hier te kort en daar te lank, kla Suid-Afrikaners asof hulle die voorreg het om aan te sit vir ‘n buffet van beskikbare politieke partye om die land te regeer.


Ek het dit nie teen die kritiek nie, want op die keper beskou is die DA nie ‘n perfekte party nie. Om die waarheid te sê die party is so ver van perfek af dat ek al die laaste tien jaar weier om vir hulle te stem. Maar komaan, daar is partye wat darem regtig slegter hoedanighede as die DA het, in byna alle opsigte.


Daarom dink ek pogings om die DA verdag te maak vanuit ontleders, joernaliste en ander rolspelers se geledere, is niks anders as onbillik nie. Ek dink hier aan kritiek teen hul klassiek liberale identiteit, asook kritiek dat hulle bruin en swart leiers in die party minag en hulle op die kantlyn plaas. Die party is rassisties basuin sy teenstanders dikwels in die media, op sosiale media en waar hulle ook al kans kan kry om ‘n hou te slaan.


Dan is daar nog die kritiek dat hulle bruin kiesers in die Wes-Kaap as stemvee gebruik en hulle dan in sak en as los sonder om dienste in die tradisioneel bruin woonbuurte te lewer. Hulle sorg net vir wit woonbuurte, word daar gekla.


Die party is korrup, roep ander uit en wys gou een of ander onbenullige diskrepansie in kwalifikasies uit.


Daar is ook die kritiek teen hul hantering van Patricia de Lille, Phumzile van Damme, Mmusi Maimani en Bonginkozi Madikizela.

Maar die punt waaroor baie ontleders nie kan kom nie, is Helen Zille se terugkeer na die leierskap van die party na haar omstrede twiete oor kolonialisering, haar verhouding met Mmusi Maimani en andere en sommer net gewoon haar teenwoordigheid. Heelwat ontleders het haar al as rassisties afgemaak.


Dalk is daar selfs ‘n stukkie waarheid in elk van hierdie beskuldigings, want soos ons weet, het geen party nog daarin geslaag om die oomblik van suiwer etiese eksistensie binne te gaan nie. Daarom dan so stukkie verdediging vanuit die hoek van iemand wat nie ‘n DA-ondersteuner is nie.


In die eerste punt van verdediging het ek gaan probeer kyk wat presies maak dat sommige mense graag die party as rassisties wil afmaak en daarvan beskuldig dat sy leierskap te wit is. Ek kon dit nie vind nie, want dit is nie waar nie. Dis eenvoudig om die antwoord te kry. Gaan besoek die party se webtuiste en kliek op die hofie Our People. Daar vind jy die nasionale leierskap van die party. Dit lees so:


John Steenhuisen, Ivan Meyer, Refiloe Nt’ sekhe, Anton Bredell, Jacques Smalle, Ashor Sarupen, Helen Zille, Dion George, Thomas Walters, James Masango, Luyolo Mphiti.


Vyf uit elf van die topleiers is bruin en swart. Dit klink vir my redelik verteenwoordigend, veral as jy dit gaan meet teenoor die ANC, EFF en VF Plus se topleierskorps.

Gaan kyk ons na die provinsiale leiers dan vind ons die name van: Jacques Smalle, Jane Sithole, Leon Basson, Nqaba Banga, Roy Jankielsohn, Solly Msimanga en Harold Mcgluwa en Francois Rodgers. Voeg die naam van Albert Fritz by as waarnemende leier in die Wes-Kaap vir Bonginkazi Madikizela, dan sit jy met vyf uit nege bruin en swart provinsiale leiers.


Uit die 84 parlementslede van die DA is 33 bruin en swart. ‘n Mens kan dit dalk ‘n meerderheid noem, maar jy moet regtig die net wyd gaan gooi as jy dit as bewys vir rassisme in die party wil aanvoer.


Gaan kyk jy na die lys van die party se burgemeesterskandidate dan lyk dit so:

Randall Williams- Tshwane

Nqaba Bhanga – Nelson Mandelabaai

Mpho Phalatse - Johannesburg

Refiloe Nt'sekhe - Ekurhuleni

Geordin Hill-Lewis – Kaapstad.


Kyk ek reg, of daar net die naam van een wit man tussen die vyf name?


Die lys wat die teendeel van die rassisme-beskuldiging kan uitwys raak net al hoe langer hoe laer jy in die party se hiërargie afgaan.


Ek dink die party maak ‘n fout as hy meen ras is nie belangrik nie, maar dis kwalik ‘n punt om die party mee te diskwalifiseer.


Die uitwysing van Helen Zille as rassis is meer as net belaglik. Daar is absoluut geen manier hoe jy die voormalige apartheidsaktivis en joernalis van rassisme kan beskuldig nie. Selfs haar twiete oor kolonialisering kom nie eers naby daaraan nie. Dis gewoon belaglik verby.


Dat sy die rede vir die party se inploffing is (dis nou te sê as jy van ‘n inploffing kan praat) is ewe onsinnig. Zille is ‘n ervare partyleier en die DA kan dalk net hul sterre dank dat sy terug is in die leierskap. Die feite is dat die party se afwaartse spiraal onder Mmusi Maimane begin het, daarom het hy self ‘n ondersoek daarna gelas. Zille se terugkeer het beslis ‘n bestendigheid na die party gebring wat hulle dringend nodig het in die komende verkiesing.


Klassieke liberalisme mag dalk nie almal se gunstelingtee wees nie, maar ‘n party met ‘n identiteit het ‘n beter kans in die verkiesing as een daarsonder. Ek sou sê gee die party ‘n klop op die skouer dat hulle weet waar hulle nou staan. Jy kan hulle immers nie meer ANC-Lite noem nie. En my gevoel is die meer bestendige party gaan heelwat beter doen as wat doemprofete dit wil hê.


Waarom ‘n lansie vir die DA breek?


Dis nie soseer ‘n lansie vir die party breek as wat dit is om na die feite te kyk nie. Die party regeer tans in 30 munisipaliteite wat klinkklaar verskil met die verval wat jy in ander dele van die land sien. Jy kry meestal werkende infrastruktuur, werkende regering, goeie bestuur en die algemene gevoel van vooruitgang.


Om die party verdag te probeer maak deur middel van sy tekortkominge, wat hy beslis het, is soos om teen ‘n Covid-inenting te protesteer. Al die bewyse is daar dat dit werk, en beter as enigiets anders, ten spyte van tekortkominge, maar jy wil aandring op ‘n volmaakte inspuiting voor jy in die ry gaan staan. En boonop maak jy staat op drognuus om jou punt te bewys. Dan gaan jy moes ANCovid kry, dan nie?





200 views0 comments
bottom of page