top of page

Is 'n ANC/EFF koalisie Suid-Afrika se voorland?

As ‘n mens verskeie nuuspublikasies van die afgelope paar dae moet glo, dan is die tafel gedek vir ‘n koalisie tussen die ANC en die EFF.


Rapport berig die afgelope naweek dat die EFF se nasionale leierskorps en die Gautengse ANC onderhandel om die provinsie se drie metros uit die beheer van die veelpartykoalisies te kry en onder ANC beheer te kry.


Ook Daily Maverick se Stephen Grootes skryf dat die leier van die EFF, Julius Malema, sy volgende skuif gemaak het met die aankondiging dat die party gereed is om die ANC se koalisievennoot te word.


The Daily Friend vra ook die vraag of daar ‘n koalisie tussen die twee partye aan die broei is. En Carol Paton val met die deur in die huis op Fin24 oor die markte se geskarrel by die gedagte aan so ‘n bose koalisie. Volgens haar beskou die markte die moontlikheid van die koalisie as een van die land se grootste risiko’s.


Kyk ‘n mens na die syfers in die drie metro’s in die bose koalisies se visier, word dit gou duidelik wat kan gebeur. As die ANC wat 86 uit die 224 setels in Ekurhuleni het, kan ooreenkom met die EFF om sy 31 by die party te voeg, sal die twee partye saam ‘n meerderheidsregering in Ekurhuleni kan vorm. ‘n Mosie van wantroue teen burgemeester Tania Campbell en haar leiers sal slaag met slegs die steun van die ANC en die EFF berig Netwerk24 se Dawie Boonzaaier in Rapport die afgelope naweek.


Die veelpartykoalisie het maar saam 98 van die 224 setels in die raad.


In Tshwane en Johannesburg sal dit bietjie moeiliker gaan aangesien die veelpartykoalisie wat uit die DA, ActionSA, die IVP, VF Plus, ACDP, PA en Cope bestaan, ‘n meerderheidsregering het om mosies af te weer.


Op die oomblik lyk dit of die ANC se nasionale leierskorps nie regtig ‘n aptyt het vir samewerking met die EFF nie, berig Rapport, maar die nuutverkose Gautengse ANC leierskorps sing ‘n ander deuntjie.


Panyaza Lesufi, Gautengse ANC-leier en dalk binnekort premier, is ‘n ondersteuner van pres. Cyril Ramaphosa, maar die meerderheid in die provinsiale uitvoerende komitee ondersteun Lebogang Maile, Gautengse LUR vir plaaslike regering, wat Lesufi in Julie onsuksesvol om die voorsitterskap van die party probeer uitdaag het. Maile is ‘n bondgenoot van Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal. Mashatile, wat ook tans waarnemende sekretaris-generaal is, is die enigste lid van die ANC se top ses wat bereid is om met die EFF oor koalisies te onderhandel. Ramaphosa en Gwede Mantashe, die ANC voorsitter, en Jessie Duarte, oorlye adjunksekretaris-generaal het daarteen vasgeskop. Verlede week het Malema vir Mashatile heuning om die mond gesmeer toe hy in ‘n onderhoud met News24 gesê het hy sou Mashatile as ANC-president verkies.

As ‘n mens verder in ag neem dat Malema en Mzwandile Masina, ANC-leier in Ekurhuleni goeie vriende is, dan word die moontlikhede van so ‘n koalisie nog sterker. ‘n Mens weet egter nooit met die twee partye nie. Enigiets is moontlik.


Maar daar is ‘n paar goed wat teen Malema en die EFF tel.


Raymond Willemse berig in ‘n ander Netwerk24 artikel dat die EFF slae by die stembus kan kry indien hul finaal besluit om saam met die ANC te werk.


Die party roem hom nog altyd daarop dat hy nooit met die ANC sal saamwerk nie omdat die ANC te korrup is. Volgens verskeie ontleders kan dit die party duur te staan kom.


Boonop het die gepoogde koalisie klaar bloedneus gekry toe hul nie daarin kon slaag om van Randall Williams in Pretoria ontslae te raak nie.


Dit raak duidelik dat die EFF nie meer beskou word as ‘n betroubare koalisievennoot regoor die spektrum nie. Soos dit is gaan die party tekere as hy nie sy sin in ‘n koalisie kry nie, en het hy al die ANC en die veelpartykoalisie op verskeie manière sedert 2016 in die steek gelaat.


Dit is waarskynlik wat vir Ronald Lamola so skerp laat reageer het op die nuus dat Malema koalisiedrome het en dat hy hom uitlaat oor die leierskapstryd in die ANC.


Julius Malema moet hom nie met die ANC se leierskapstryd bemoei nie, het Lamola Sondag op ‘n gedenklesing van Winnie Madikizela Mandela in Pretoria gesê, berig Raymond Williams gister op Netwerk24. Lamola sê die ANC moet hom nie deur Malema laat voorskryf nie.


Lamola, wat soos Mashatile, ook daarna streef om die party se adjunkpresident te word, sê hy verstaan nie hoekom Malema nou ‘n ander deuntjie oor Mashatile sing nie. Die EFF kan nie vertrou word nie, want hulle verander dikwels van plan wanneer die situasie hulle pas.


Verlede jaar kort na die munisipale verkiesings het Malema nog na Mashatile verwys as een van die oneerlikste mense wat hy ken. Malema het toe gesê Mashatile is ‘n knoeier en kan nie vertrou word nie. Lamola meen ook Malema se tyd as leier van die ANC is verby en dat Floyd Shivambu by hom moet oorneem.


So week of wat gelede het die DA ook na Malema gekap. Die DA het geweier om soos ander partye ‘n mosie van wantroue in president Cyril Ramaphosa te steun. Malema het die DA daaroor gekap en die party het teruggeslaan deur na Malema te verwys as die nuttige idioot van die ANC faksies.


En vra Max du Preez tereg in Vrye Weekblad hoe ‘n mens iemand soos Malema kan vertrou wat loop en verkondig die party gaan tot 25% in die 2024 verkiesing op hom trek.

Die een meningsopname na die ander bewys dan dat die party niks meer as 10% gaan kry nie.


Tog kry die party dit reg om spanning te skep en die markte benoud te laat reageer. ‘n Mens hoef regtig nie eers diplomaties te wees oor wat ‘n EFF-ANC-koalisie op ‘n nasionale vlak vir die ekonomie kan beteken nie, skryf Carol Paton verder in haar kontemplasie oor die kwessie.


Beleggingsvertroue en beleidsekerheid gaan vir seker daaronder ly. Ook sy wys daarop dat die EFF nog nooit baie goed was of selfs belanggestel het in goeie regering nie. Hulle gaan net nog ‘n span wees wat instap om ‘n aanslag te maak op die finansiële voordele daarvan om deel van die regering te kan wees.


In die lig hiervan, meen Paton, is dit dan goed om te kyk na die verskillende meningsopnames wat daar tans is oor hoe die 2024 verkiesing kan verloop. Die jongste opname is gedoen deur Frans Cronjé, die voormalige hoof van die Instituut vir Rasverhoudinge. Hy staan nou deesdae aan die hoof van die Social Research Foundation.


In sy meningsopname word daar veronderstel dat 66% van die geregistreerde kiesers vir stemdag sal opdaag. Dis min of meer wat in 2019 gebeur het. In so ‘n geval behoort die ANC dan 50% nasionaal te kry, die DA 25% en die EFF 12%. Herman Mashaba se Action SA behoort 5% te kry


Wat meer is, volgens hierdie syfers is Gauteng klaar verlore vir die ANC en KZN asook die Noordkaap sal marginaal


Die ander twee peilings se syfers verskil van Cronjé s’n. Die een is Rapport s’n wat die ANC op 38% nasionaal plaas, die DA op 27% en die EFF op 10%. Volgens die koerant het die ANC hierdie meningspeiling intern gedoen, hoewel die party dit ten sterkste ontken.


Ipsos se peiling wat so week of twee gelede bekend gemaak is, bring ‘n paar vraagtekens na vore. Hierdie peiling plaas die ANC op 42%, die DA op 11% en die EFF op 9%. Die peiling was nie deel van ‘n omnibus peiling nie en het gevolglik nie die deelnemers beperk tot geregistreerde kiesers nie, wat natuurlik die syfers so bietjie verwring het, veral vir die DA wie se ondersteuningsbasis grootliks uit geregistreerde kiesers bestaan.


Op die keper beskou moet ‘n mens sê die SRF se peiling lyk na die mees akkurate van die drie. Wat egter vir talle teenstanders van die ANC slegte nuus inhou. Die ANC gaan nie skielik ineenstort nie, maar eerder die lang stadige spiraal na verval voortsit terwyl hulle in 2024 waarskynlik weer daarin sal slaag om net-net as regerende party te seëvier.


Die goeie nuus is dat die sentristiese partye soos die DA en Action SA, asook moontlike nuwe partye sal aanhou groei in koalisies waar hulle die oorheersing van die ANC in sommige plekke sal inkort, skryf Paton.


Volgens Frans Cronjé sal die ANC waarskynlik in die 2029 eers sy meerderheid klinklaar verloor na gelang verstedeliking toeneem en die party se steunbasis begin verouder. Dis ook volgens Cronjé wanneer die ANC sy betroubaarste leier in ‘n baie lang tyd, Cyril Ramaphosa gaan verloor.


En van hier af raak dinge dan meer kompleks.


Tot op hede het beide die DA en die ANC op grond van min of meer dieselfde redes gekies om nie met die EFF saam te werk nie. Maar as die EFF ‘n verswakkende ANC ‘n langer lewenslyn kan verskaf, kan die prentjie dalk verander.


Maar die ANC sal ‘n groot fout maak om Malema en sy rooi berets in hulle kraal toe te laat, skryf Stephen Grootes in Daily Maverick. Volgens hom mag Malema dalk nou sê hy is gewillig om saam met die ANC in ‘n nasionale regering te werk, maar hy kan nog steeds nie verduidelik hoekom hy net verlede jaar nog besluit het om ten gunste van die DA burgemeesters en speakers in Ekurhuleni en Johannesburg te stem nie.


Hoekom het hy verlede jaar besluit om die DA te steun, maar vanjaar wil hy die ANC steun, is van die vrae wat geopper kan word, aldus Grootes. En die antwoord is voor die hand liggend. Die EFF het ‘n akute gebrek aan beginsels. Hulle is ‘n party wat hul mantel na die wind span, het ons al vroeer in hierdie bespreking vir mekaar gesê. Malema sal enigiemand steun wat vir hom op daardie oomblik die beste uitkoms kan bied.


Maar goed, ‘n mens kan dalk baie versigtig met so iemand in koalisie ingaan. Hoekom sal jy dit egter waag met iemand wat al telkemale verklaar het dat hulle jou party wil vernietig. Dis een ding om saam met ‘n teenstander te werk wat meeding om stemme, maar ‘n party wat daarop uit is om jou te vernietig kan net groot probleme bring. Net op grond hiervan behoort daar ‘n vertrouensbreuk tussen die ANC en die EFF te wees.


Grootes wys boonop ‘n handvol praatjies vanuit Malema se mond uit wat dag en nag van mekaar verskil. So wou hy een slag die openbare beskermer Busisiwe Mkwhwebane uit haar amp verwyder, maar toe besluit hy skielik om haar te ondersteun.


Gedurende Jacob Zuma se ampstermyn het Malema die regbank gesteun en duidelik gesê dat die regterpresident van die Wes-Kaap, John Hlophe, ‘n vrot appel is wat so gou as moontlik verwyder moet word. Maar nou beskryf hy om as die beste regsbrein in die land.


Maar die kroon op alles is daai ondersoek van die NVG na Malema en kie se betrokkenheid by VBS. Met senior ANC-lede wat kort in die voetspore van Ace Magashule volg om verhoor te word vir ongerymdhede, kan die ANC kwalik bekostig om nog ‘n klomp boewens op hul wa te laai. Maar nou ja, wie is ek en jy om te besluit. In die Suid-Afrikaanse politiek kan enigiets enige oomblik moontlik wees.


Selfs ‘n ANC wat homself tot so mate genees dat hy nie op die steun van die EFF hoef staat te maak nie. En dit is waarskynlik die beste uitkoms vir SA, skryf Francois le Roux in Vrye Weekblad. Volgens Le Roux is dit beter om ‘n sterk leidende party te hê, eerder as ‘n swetterjoel van koalisies, veral binne die gegewe van die partypolitieke stelsel en die diep sistemiese probleme waarmee ons sit. Hy wens dus eerder vir ‘n gesonder ANC as geen ANC nie.

Hy skryf:


Die kiem van die verval gedurende die Zuma-jare was die terugtrek in ’n soort etnies-godsdienstige laer met ’n slagoffermentaliteit, soortgelyk aan die psige van apartheid en dié van die huidige MAGA-beweging in Amerika. Om nie van Putin se Rusland te praat nie. Dis ’n verwor(n)ding van die ubuntu-lewenshouding, waar moraal afneem en moraliteit vervaag.

Kan die ANC hiervan genees? Herhaaldelik moet ons hoor dat die ANC nie meer kan selfherstel nie. Maar dit is wensdenkery, meen ek. Die feit is dat dit wel op die pad van herstel is. ’n Brose en lang pad, inderdaad. Maar ’n pad wat nie simplisties loop soos dikwels verwag word – gewoon die slegte dele met die mes bykom en uitsny nie. Daar is weereens ’n A