top of page

Is die regbank rerig lendelam?

Die Suid-Afrikaanse regbank was so bietjie in die spervuur die afgelope tyd. Dit het alles begin by die ANC wat nie betyds sy kandidaatlyste vir die munisipale verkiesings op 27 Oktober ingedien het nie.


Interne probleme, wat wissel van faksies tot ‘n nypende geldtekort, magsug tot korrupte leiers en ‘n norring ander kwessies het gesorg dat die party sy kandidate in 93 munisipaliteite nie betyds kon registreer nie. Dit het beteken dat die party in 35 munisipaliteite óf as regering uitgestem sou word, óf sy status as amptelike opposisie kon verloor.


Die ANC het ‘n aansoek in die kieshof gebring om die OVK te dwing om sy registrasie van kandidate te heropen, en toe onverklaarbaar in hulle spore omgedraai en die aansoek teruggetrek.


Hier moet iets fout wees, het waarnemers onmiddellik gereageer. Dis heel te verstane. Binne die Suid-Afrikaanse politieke konteks gebeur niks sonder ‘n agenda nie, veral nie wanneer jy met die ANC te make het nie.


Maar botter kon nie in die ANC se mond smelt nie. Nee, sê Pule Mabe, woordvoerder vir die party, die ANC het sy beplande aansoek in die kieshof teen die Verkiesingskommissie (OVK) laat vaar om ’n oorvloed hofsake oor die plaaslike verkiesing in die land se howe te vermy.


Ag twak man, die ANC het nog nooit tot voordeel van die groter gemeenskap opgetree nie. Inteendeel, die party se amptenare is bekend daarvoor dat hulle die land se howe tot barstens toe belas in ‘n poging om hul hande op soveel geld as moontlik te lê. Ek verwonder myself dikwels daarin dat die klomp boewens bereid is hom hulle reg om te steel in die hof te verdedig.

Daarom het ek begrip gehad toe prof. André Duvenhage van Noordwes Universiteit, en Helen Zille van die DA, amper onwillekeurig swik voor die versoeking om die regbank se integriteit verdag te maak.

Miskien weet die ANC wat die Konstitusionele Hof se uitspraak gaan wees in die aansoek van die OVK om die verkiesing, op grond van Oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke se aanbeveling, uit te stel tot volgende jaar in Februarie, het prof. Duvenhage gesê.


Helen Zille twiet in dieselfde trant dat die ANC se hofommeswaai “aandui dat hulle ‘n wenk gekry het dat die OVK-aansoek om die verkiesing uit te stel suksesvol was”.


In ‘n onderhoud met Dr. Piet Croucamp van Noordwes Universiteit hieroor kapittel hy vir Zille en Duvenhage hieroor en verklaar kategories dat daar nog nooit enige rede was om die hof se onafhanklikheid en integriteit te betwyfel nie.


Daar is vele voorbeelde waar die Suid-Afrikaanse howe uitsprake gelewer het wat nie gekritiseer is nie, het Croucamp gesê. Om die waarheid te sê, net anderdag nog het die Konstitusionele Hof uitspraak gelewer dat Jacob Zuma tronk toe moet gaan weens minagting van die hof, en beide Duvenhage en Zille het die hof se lof hieroor besing, het hy bygevoeg.


En net om Croucamp se punt te onderstreep, lewer die hof toe uitspraak: Die verkiesing word nie uitgestel nie. Suid-Afrikaners moet tussen 27 Oktober en 1 November by die stembus uitkom. ‘n Mens sou dink die saak is op die spits gedryf.


Maar toe kom Tim du Plessis met sy rubriek die afgelope Sondag in Rapport en hy verklaar die regbank lendelam.


Hy wys daarop hoeveel probleme in die land bestaan en hoe onbestendig alles is. En dan wys hy daarop dat die jongste Afrobarometer-peiling uitwys dat howe se vertroue-indeks nie meer baie hoog is nie. Die howe meet selfs laer as die verflenterde Suid-Afrikaanse Weermag!, skryf Du Plessis.


Volgens Du Plessis lê die probleem by die Konstitusionele Hof se gesloer met die uitspraak. Suid-Afrikaners was duidelik bekommerd dat die hoogste hof sou dwaal oor die hou van die verkiesing. Daarom sug almal dankbaar toe die hof sê die verkiesing word nie uitgestel nie.

Maar die dankbaarheid was van korte duur, want toe weier die hof om redes – minderheid en meerderheid- vir sy beslissing te verstrek. En boonop vat die OVK ‘n gaping en vertolk die beslissing so dat die ANC ‘n tweede kans kry om sy kandidate te registreer. En die hof sprak g’n sprook hieroor.


Nou gaan alles weer terug Konstitusionele Hof toe. Dis nou ‘n geneuk om die minste te sê.


Maar nie almal stem saam daaroor dat die regbank lendelam is nie. Oudregter Johann Kriegler, op sy dag self een van die groot ringkoppe in die Konstitusionele Hof, sê ‘n mens moet baie genuanseerd wees wanneer jy die regbank wil kritiseer. En hy volstaan daarby dat die regbank, met foute en al, die land se burgers op ‘n eerbare wyse dien. Om die waarheid te sê, die hele regstelsel, foute en al, bly nog steeds ‘n pilaar van die Suid-Afrikaanse demokrasie.


Nuuspod wil die oudregter se sentimente onderskryf. Natuurlik is dit ‘n teleurstelling dat die ANC by die agterdeur ingeglip het. Baie van ons het al gesien hoe kantel die reus oor die groot hou op die kennebak. Maar die party se tweede lewe is nie die hof se skuld nie. Dis die OVK se skuld. En hulle moet daarvoor aangevat word.



Die plek om dit te doen is in die hof. Dis hoekom ons die stelsel het. Ons kan nie die howe loof vir uitsprake wat ons pas, en dan kritiseer vir uitsprake wat nie in ons guns beslis word nie.


Dis nie die regstelsel wat lendelam is nie. Dis die staat. Die staat wat onder beheer van die vrotsige ANC is. Dis waarheen ons kritiek geloods moet word.









87 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page