top of page
  • Writer's pictureTeresa Coetzee

Inperking sal my nie onderkry nie





Toenterjare gelede het ek vir Lizz Meiring ontmoet toe ek as ‘n grasgroen joernalis onder Joan Kruger se kundige hand by Rooi Rose gewerk het. Ek onthou ek het onmiddellik van die opgewekte, energieke en borrelende aktrise gehou wat my behandel het asof ek ‘n belangrike, gesoute joernalis is – Lizz het altyd soveel deernis, geduld en respek vir alle mense gehad. As kind het ek haar (en veral daai bene) bewonder en ek het as’t ware met Lizz se naam in ons huis grootgeword. Die eerste keer wat ek haar in lewende lywe op die verhoog gesien het, was in 1991 terwyl ek nog op skool was. Ons het Die Keiser as voorgeskrewe boek behandel en Lizz was deel van die toneelgeselskap wat die produksie by ons skool kom opvoer het. Lizz was die Keiserin.

Sedertdien het ons paaie gereeld gekruis en ek is altyd bly as ek haar by ‘n funksie of partytjie raakkuier, want Lizz het altyd die wonderlikste stories om te vertel. Eendag gaan ek haar ompraat om weer die storie oor Jurie Els en Hestrie Cloete se troue te vertel, want tot vandag toe voel dit vir my of ekself ook by daai troue was omdat Lizzie dit een aand (soos net sý ‘n storie kan vertel), met ons gedeel het.

Dis moeilik om te dink dat sy vanjaar haar 50ste jaar in die vermaakbedryf vier, want ek kon sweer ons is ewe oud (en ek is nog nie 50 nie), maar Lizz het letterlik as ‘n negejarige kind al haar eerste verskynings op die verhoog gemaak. Sy neem haarself nooit te ernstig op nie en het mense al laat skaterlag vir haar komiese rolle soos in dié van Lipstiek Dipstiek en Vettie Vettie.

“Ek was as kind reeds baie kreatief en ek het twee wonderlike ouers gehad wat ons van kleinsaf geleer het dat ons enigiets kan wees wat ons wil en dat ons onsself onvoorwaardelik kan uitleef. Ons kinders is toegevou met liefde en warmte en my ouers het ons soveel sekuriteit en aanvaarding gegee.

“Ek was baie bevoorreg om my heel eerste teaterproduksie onder leiding van een van die grootste geeste in die teaterbedryf, die doyenne van teater professor Anna Neethling-Pohl te doen. Dit was by TUKS se Dramadepartement in CJ Langenhoven se Vrou van Suid-Afrika en ek het saam met groot name soos wyle Christien Basson, Miems de Bruyn, Sandra Prinsloo, Zak du Plessis en selfs Lucas Maree gewerk. Lucas self was ook ‘n wonderlike akteur gewees,” sê Lizz.

“Prof. Anna het my net soos een van daardie gesoute akteurs behandel en vir my ‘n ongelooflike dissipline en liefde vir die kunste geleer,” sê sy.

Sy was ‘n bogkind toe sy selfs al radiowerk begin doen het en op sestien het Lizz haar eerste verskyning op televisie gemaak in die televisieprogram Gateway. Teen die tyd dat sy ná skool Drama by Tuks gaan studeer het, was sy eintlik al ‘n ervare aktrise.

Deur die jare het Lizz haarself ook bekwaam as skrywer, reggiseur, seremoniemeester, teatervervaardiger, televisie-aanbieder, spreker, kunste-aktivis, kreatiewe konsultant en sy is selfs ‘n gekwalifiseerde afslaer. Benewens in Afrikaanse produksies, tree sy gereeld in Engelse produksies op en het ook al in Frans, Duits en Sotho gewerk. Haar bynaam is Bizzie Lizzie omdat sy soms aan tot ses of meer produksies tegelyk werk. Sy het ook al 19 toekennings ontvang vir haar werk as aktrise, skrywer, regisseur, vervaardiger en vir haar kulturele bydrae.




Haar huis in Westdene is ‘n kleurvolle kunstenaarsnessie en deesdae het sy ook vier brakke wat haar hande volhou – almal hondjies wat sy iewers gaan red het en sy vertel dat sy elke dag besef hoeveel sy het om voor dankbaar te wees. Syself het maar ‘n klein hartjie wat mense maklik jammer kry en graag wil help.

Selfs gedurende die pandemie wat die wêreld getref het, probeer sy positief en besig te bly en neem die feit dat sy kan doen waarvoor sy lief is, glad nie vanselfsprekend nie.

“Ek sal altyd ‘n kreatiewe mens wees en daarom is dit vir my verskriklik lekker dat ek soveel dissiplines kan beoefen waarin ek my kreatiwiteit kan uitleef. Ek is baie dankbaar dat ek nog nie siek geword het van Covid nie, en dat ek steeds werk het om te doen. Dit breek my hart om te sien hoe swaar mense werklik daarbuite kry en hoe hierdie virus mense kom aftakel en beroof het van soveel verskillende goed. Ek is dankbaar dat ek regdeur Covid kon werk, al moes ons ons werk op ander manier begin aanpak het en dinge soms anders begin doen het as waaraan ek gewoon is. Ek kan eenvoudig net nie stilsit en niksdoen nie en my kreatiwiteit moet deurentyd aan die gang bly,” sê sy.

Op 27 en 28 Augustus tree Lizz by die Hollywood Klein Teater in Krugersdorp op met haar vertoning Kameras, Konserte en Kleedkamers waar sy stories en verhaaltjies vertel oor die afgelope vyftig jaar in die bedryf. En hoewel daar net 50 mense op ‘n slag die konsert kan bywoon, is sy oorstelp dat sy weer kan “perform”, want na alles bly dit maar haar eerste liefde. Vir haar is daar geen energie soos die energie in ‘n teater wanneer iemand op die verhoog staan en sy of haar hart uitspeel nie.

  • Bespreek by Jak via Whatsapp by 072 905 1356. Kaartjies kos R250 per person en dit sluit ‘n ligte ete in.


52 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page