top of page
  • Writer's pictureIzak du Plessis

En vergewe ons ons mistastings en bewaar ons van die virus...





Die virus het ons onmenslikheid kom blootlê, soos ‘n sinkgat wat oornag verskyn op die pad na Bapsfontein. Van daardie eerste oomblik af na die afkondiging van die inperkingsmaatreëls in Maart 2020, het daar ‘n ekstra byt bygekom in die manier hoe ons met mekaar omgaan en verskil.

‘n Bietjie meer as ‘n jaar en ‘n half later lyk dit asof ons gereed is om mekaar te kruisig. Die reaksie op Dr. Susan Vosloo se uitlatings oor inenting het dit net weer bewys. Skielik is ons nie meer net anti-vaxers en pro-vaxers nie, ons moet nou ook kant kies in die stryd om Susan Vosloo se kop.

Aan die een kant verklaar talle pro-vaxers hoeke arrogante en naïewe mens sy moet wees. Aan die ander kant verdedig haar ondersteuners haar stellings klakkeloos. En tussenin word die hele lot van ons verguis, verag en verwerp, na beide kante van die meningsverskil se pole toe.

Sonder om te skroom slinger ons vernietigende beledigings na mekaar toe. Mense wat ek voorheen as slim, intelligent, belese en stylvol beskou het, vertel aan weerskante van die kwessie vir mekaar hoe dom en onnosel die ander een is. Mense unfriend mekaar op Facebook en in die regte lewe op grond van hierdie meningsverskille.

Dit alles net omdat hulle sukkel om mekaar se standpunte in te sien. Dit alles omdat ons ‘n heilige vrees vir die dood het.

Ja, natuurlik is die kwessie meer genuanseerd as dit. Daar is immers goed soos drognuus, vals aannames en sommer net stapelgek gevolgtrekkings. Maar in sy kern, meen ek, vind hierdie verskriklike meningsverskil en die mildelike uitstorting van ons onmenslikheid sy oorsprong by ons vrees vir die dood. Op grond hiervan vind ons regverdiging vir ons redelose aandrang dat die ander kant aan bande gelê moet word, stilgemaak moet word.


In ander omstandighede sou dit ondenkbaar gewees het. Drognuus is immers nie van gister af deel van ons lewe nie. Mense hou hulself al baie jare daarmee besig en ons laat hulle begaan. Nou ewe skielik, gebore uit ons vrees vir die dood, wil ons aan mekaar voorskryf hoe ons mag dink. Ek meen ons skep ‘n onhoudbare situasie. Ons is nie net besig om ons vryheid van mening in te perk nie, ons is ook besig om onmenslik teenoor mekaar te raak.

Daarom is ek ‘n groot voorstander van vrye keuse selfs in die aangesig van die dood.

Ons hoef mekaar nie emosioneel dood te maak om drognuus te bestry nie. Ons kan dit met gewone goeie argumente doen. Die skrywer Fransi Philips doen dit op haar eiesoortige manier op Facebook. Sy het gereageer op ‘n inskrywing van Hannelie Booyens oor Dr. Susan Vosloo.

“Wat die moontlike nadele van die inenting betref, weet ons dat anti-NWO leiers, soos Trump en Putin, wat beter as ons sou geweet het as daar ‘n komplot agter die inentings was, die inentings goedkeur en op geen stadium enige anti-vax statements gemaak het nie. Of ons die twee vertrou of nie, is nie die punt nie. Die punt is dat ons iets kan aflei deur hulle ten opsigte van hulle eie agendas te vertrou. Vosloo praat kak dat die vaccine se bestanddele ‘n geheim is, dis vrylik beskikbaar. Dit maak haar reeds verdag. Sy oordryf die moontlikheid dat dit mens dood kan maak op die korttermyn en spekuleer oor die langtermyn moontlikheid. Niks word wetenskaplik gestaaf nie en tog sien sy kans om haar posisie as dokter te misbruik. Wat oor en oor bewys is, is dat duisende mense doodgaan van Covid en dat die inenting op hierdie stadium lewens red. Die res is blote spekulasie met ‘n streep paranoia wat aan waansin grens.”

Dis vintage Fransi Phillips. Maar sy maak haar punt. Ons hoef nie verder as dit te gaan nie. Ons hoef nie Vosloo se integriteit as geneesheer te kanselleer nie. Ons hoef net die gat in haar argument uit te wys.

Maar ons doen dit nie. Ons koggel en maak verdag en vloek mekaar uit, ek inkluis. Die hele lot van ons, besef ek gisteraand na twee speelse inskrywings wat ek op Facebook geplaas het oor die inentings.

En toe ek Carla Lewis se rubriek lees – ‘n Stok verjaag anti-inenters – toe hou ek my hart vas, en besluit ek gaan my inskrywings verwyder, al is dit net speels. Sy skryf:


“Tog laat die uitsluitings en gekoggel van mense wat teen die entstof gekant is, my so ’n bietjie ongemaklik voel. Wanneer iemand weens die virus sterf en dit kom aan die lig dat die persoon nie ingeënt was nie, is die leedvermaak by sommige mense amper tasbaar. Onlangse Nids-Cram-navorsing wys egter dat die sogenaamde kanniedood-antiinenters in Suid-Afrika wat die entstof weier vanweë samesweringsteorieë of geloofsreëls, ver in die minderheid is – onderskeidelik 1% en minder as 2% van die bevolking. Die meeste van die mense wat huiwerig is om ingeënt te word, is bekommerd oor die entstowwe se veiligheid en navorsers meen hulle kan oorreed word om ingeënt te word indien hulle meer inligting kry. Wat nié gaan werk nie, is vervolging en uitsluiting. Deur ’n stok-benadering te volg en mense uit te kryt as ongeletterde ploerte, dryf ons dié groep na meer duister, donker gate en “bevestig” ons deur dié optrede hul slagofferskap. Ons skep deur dié soort optrede net ’n teelaarde vir ekstremisme en verdere polarisasie. Onthou wat gebeur het toe Hillary Clinton kort voor die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2016 na Donald Trump se ondersteuners as ’n “basket of deplorables” verwys het. Leer ons nie?”

Maar dis Inge Kühne van Rapport wat my finaal oortuig het dat ons kan bekostig om sagter met mekaar om te gaan, om ons menslikheid te laat oorwin, eerder as ons vrees vir die dood of ons begeerte om reg te wees, met wat ons ook al glo. Inge het onlangs Covid19 gehad en sy is besig om te herstel. Sy het vandeesweek vir die eerste keer weer begin hardloop en skryf die volgende op Facebook:

“Dis nie baie ver nie. En dis ook nie vinnig nie. Maar dis die eerste keer sedert die Covid-episode dat ek weer gehardloop het. Die laaste keer was 20 Junie, die dag toe die virus my platgetrek het. Hoewel ek verskriklik dankbaar is dat ek weer gesond is, rus die wete dat so baie ander mense nie gesond geword het nie baie swaar op my gemoed. As hierdie moeilike winter ons een ding kan leer, dan is dit dat 'n mens dankbaar moet wees vir elke gesonde dag, elke uur saam met geliefdes, elke asemteug.”

Die hemele weet, ons het dit nodig. Ons het nodig om sagter te raak, ons het nodig om mekaar se mistastings te vergewe, ons het nodig om ons onmenslikheid, veral nou, baie diep te begrawe, want ons is besig om in monsters te ontaard, terwyl ons almal aan die virus blootgestel is.

20 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page