top of page
  • Writer's pictureIzak du Plessis

Ek is GATVOL vir rassisme






Ek is gatvol vir beskuldigings van rassisme en elke ander vooroordeel in die boek op grond van my witheid, my Afrikaanswees en my straightgeit, al is ek deesdae nie-praktiserend straight.


Nee, niemand het my vandag persoonlik beskuldig nie, dis maar net ek wat die baadjie aangetrek het na aanleiding van die ontsteltenis oor Gareth Cliff.


Cliff het hom Vrydag die woede van daai Twitter Taliban op die hals gehaal toe hy Mudzuli Rakhivane se ervaring van rassisme as anekdoties en onbelangrik afgemaak het.


Rakhivane het met John Steenhuisen op CliffCentral gepraat oor die omstrede plakkatekwessie van die DA in Phoenix.


Die kwessie het ‘n rassismestormpie ontketen wat daartoe gelei het dat die party die plakkate moes verwyder.


Cliff het toe daarop gewys dat rassisme eintlik onderaan die meeste mense se lysie is van goed wat vir hulle belangrik is, aldus ‘n meningsopname deur die Instituut vir Rasseverhoudinge.



Rakhivane antwoord toe dat sulke mense nog nie in haar skoene gestaan het en die rassisme ervaar wat sy elke dag ondervind nie. Cliff het dit toe afgemaak as anekdoties en onbelangrik.


Jy kan nou vir jouself dink wat hieruit kan kom. Oproepe tot boikotte, artikels oor wit bevoorregting, gesprekke oor institusionele rassisme. Daar kan dalk selfs ‘n poging of twee wees om Cliff se stasie te muilband.


En dis waarvoor ek gatvol is. Soos Douglas Murray, Britse skrywer, wil ek ook my klaaglied hieroor ophef na die ewige gebergtes: ons hele geskiedenis, ons hele samelewing, almal wat wit is, almal wat Afrikaans is word deesdae rassiste gebrandmerk.


Ek ontken nie hiermee die aakligheid van rassisme nie, maar die hemele weet dis soos om teen ‘n oorgewig, has-been bokser te moet boks. Hy boks nie, hy lê jou dood teen die toue. Nie omdat hy slimmer as jy is nie, maar omdat jy vir ‘n oomblik geweifel het of jy daai uitklop-opstopper moes toedien, want die ou is darem legendaries en hy het soveel vir die sport beteken en jy is die nuwe outjie en, en, en ...


Die antwoord is, jy moes hom platgedonner het, want dit gaan sukkel kos om nou van daai toue af weg te kom.


Dit is wat ons met rassisme moes gedoen het, toe ons hom met ‘n mooi kombinasie houe in die moeilikheid gehad het, moes ons hom uitgeslaan het. Maar toe weifel ons en nou lê hy vir ons plat.


In sy boek The Madness of Crowds skryf Douglas Murray: “Among the many depressing aspects of recent years, the most troubling is the ease with which race has returned as an issue.”



Die rede hiervoor, en ek sê dit nie sonder empatie en begrip nie, is dat sommige mense nog slagoffers van rassisme wil wees. Ek weet my empatie gaan net mooi bokkerol vir party mense beteken, nietemin, kom ek sê dit weer: Ek het begrip en empatie hoekom mense sukkel om nie slagoffers van rassisme te wees nie.


Maar ek is tog van mening dat die tyd hier is om los te breek van hierdie monster.


As jy wil aandring daarop om ‘n slagoffer van rassisme te wees, is jy ‘n smartvraat wat wil teer op die energie van onbillike skuldgevoelens wat jy by ander lewend wil hou.


Ek was twee keer in my lewe by die Voortrekkermonument, maar ek het besluit om nooit weer te gaan nie. Die monument, volgens my, is die getuienis van Afrikaners wat geteer het op die feit dat hulle slagoffers was. Nie een van die beelde wat ek gesien het getuig van oorwinning nie. Dis net dood en doodslag en marteling.


Daardie ingesteldheid van slagofferskap het lank daarin geslaag om die meeste Afrikaners as’t ware in die monument gevange te hou. Maar genadiglik het hulle uitgebreek, sommige het selfs bedank as Afrikaners.


Eers toe kon ‘n nuwe soort Afrikaner na vore tree. Een wat oorwin het. Een wat sy vryheid vier en nie sy slagofferskap nie. Dis daardie Afrikaner wat die muur van apartheid en rassisme help afbreek het. Dis daardie Afrikaner wat hierdie land broodnodig het en kan help om dit wat verval het, op te bou en om rassisme in ‘n kelder toe te sluit waar dit hoort.


Om rassisme, rassisme, te bly roep in ‘n bestel wat hom gewen het, is om hierdie bestel te wantrou. Om rassisme, rassisme, te bly roep is om hom aan die lewe te hou tot nadeel van die bestel wat hom gewen het.



Daar is nou groter kwessies as rassisme om aandag aan te gee, kwessies wat elke Suid-Afrikaner se lewensgehalte ernstig bedreig. Dis waarteen ons gaan moet baklei.


Om dit te kan doen sal ons moet vrede maak met rassisme. Ons moet aanvaar dat rassisme nooit sal verdwyn nie, soos kommunisme, of die plat aarde-teorie.


Kommuniste en die plataardiges bestaan nog steeds, maar ons spring nie op en kry ‘n hartaanval daaroor nie, ons steur ons gewoon nie aan die klompie nie, want anders as rassisme, het ons hulle met ‘n hamer platgeslaan.


Vir die meeste mense wat ek ken is rassisme ‘n onding, iets waarmee hulle niks te doen wil hê nie. Die meeste mense wat ek ken is bereid om saam met miljoene ander Suid-Afrikaners aan ‘n oper toekoms te werk. En daar is selfs studies wat dit bewys.


My magtig man, as iemand rassisties is, leef hulle dood, ons leef immers in ‘n bestel wat jou daartoe bemagtig het. Hou op om alles en almal rondom jou te wil lamlê oor ‘n probleem wat vir hulle ewe afstootlik is.


Vooroordele sal altyd bestaan, maak nie saak hoe hard ons daarteen baklei nie, maar dit is oorwin, hou op om dit asem te gee vir elke bakatel. Gebruik die krag van oorwinning, dis tot voordeel van ons almal. Slagofferskap kniehalter ons.

398 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page