Toe ek 'n kind was, was Stilte 'n spook. Die donker was haar bose maatjie wat elke beweging van haar laat kraak en knal het. Die geritsel op die dak, die geskarrel op die plafon, die voetstappe op die houtvloere, die asemhaling om die hoeke van die huis, sy wou met alle mag deur elke gleufie in die huis beur om my te gryp en weg te voer na 'n bose land.
Ek het nagte om gehuil en vasgeklou aan my kussing, want my ma het gedreig met 'n pakslae groter as die nag se spoke as ek weer by hulle in die bed gaan lê.
My nagtelike hel het eers geëindig as ouma Ellen vroeg soggens, dit was nog pikdonker, in haar nagjurk en pantoffels, in die kombuis begin rondskuifel het om die steenkoolstoof aan die gang te kry. Dan eers kon ek slaap, die diep slaap van iemand wat gekoester word.
As jongman het my vrees vir stilte eweneens 'n groot invloed op my doen en late gehad. Ek wou altyd tussen groepe mense wees. Restaurante met een of twee mense in het vervelig gelyk, vakansieoorde sonder mense was nie 'n vakansieoord nie, kerke sonder skares moes vir seker sonder God ook gewees het.
Dit het mettertyd verander. Hoe ouer ek geword het, hoe groter was my smagting na stilte. En na elke road trip, besoek aan die wildtuin, of Namakwaland, het my hart 'n beklemming begin kry as die gesigseinder van die stad vanuit die verte begin opdoem. Elke uur in die kantoor het soos 'n gevangenis begin voel, en ek het doelbewus al hoe meer na Stilte begin soek.
Ek luister byvoorbeeld glad nie meer musiek as ek ry nie. Die stilte is vir my net soveel dieper, so veelseggender. Dis wanneer jy jouself leer ken. En wanneer jy jouself leer ken het, is jy tot net soveel meer in staat, maak nie saak hoeveel curve balls die lewe na jou toe gooi nie. Dit het lank gevat, maar Stilte is nie meer 'n spook nie. Sy is 'n lover, een wat jou met geduld bemin.
Vanoggend het Stilte haar een been tussen myne ingevleg. Ek kon haar middeljarige borste deur die oorgroot T-shirt teen my rug voel druk. Haar beleë, sagte dye het my gekoester en met haar arms om my het ek weer ingesluimer.
Bly by my, vir altyd, het sy deur die gleufies en skrefies van die huis in my oor gefluister. En ek kon sweer ek hoor hoe ouma Ellen die steenkoolstoof brandsteek vir die dag se werksaamhede.
My bakkie se nuwe bande is op. Die seël is in. En ek is weer mobile. Maar ek gaan vir 'n wyle nog hier rondhang. Ek is gelukkig om 'n vriend te hê wat vir my 'n blyplek kan verskaf. En ek moet bieg, ek is banger vir daai virus as wat ek graag hardop sal wil erken. Ek reken my kans is ietwat kleiner aan die kant om hom te kry as daar bo in Gautotland waar hy soos 'n wilderige hings op loop gegaan het. So, ek sal vir eers nog 'n bietjie hier in die arms lê van iemand wat my liefhet, selfs al is dit net snags in my verbeelding.
Die foto is geneem op 'n skaapplaas by Swartkop, sowat 70 km hiervandaan. Ek was saam met 'n man hier uit om te loop skaap haal. Dit was 70 km van stilte en oopte en ruimte. Ek kan nie genoeg vir jou beduie hoe dit my oorweldig en hoeveel vrede dit vir my gee nie.
Julle moet 'n great dag hê, daar wag 'n opwindende een vir my, en 'n nog opwindender naweek, maar moenie vrees nie, ek sal weldra alles openbaar.
Commentaires