top of page
  • Writer's pictureMW Welman

Bokke, Proteas en F1 is terug!

Hierdie naweek is weer ‘n lekker besige sport naweek met Championship Rugby, die tweede krieket toets teen Engeland en natuurlik die Formule 1 wedren by die Spa Franchorchamp baan in België.


RUGBY


Na die oortuigende en inspirerende oorwinning oor die All Blacks in Nelspruit, was die redelik gemaklike manier waarop die All Blacks met die Bokke nogal op die heiligdom, Ellis Park, afgereken het, soos ‘n emmer water in die gesig. Baie vrae is gevra oor die spankeuses, onder andere om Duane Vermeulen in die beginspan te sit na hy etlike maande beseer was, maar meer pertinent oor die besluit om Joseph Dweba te laat begin en Malcolm Marx, die vorige week se speler vd wedstryd weer op die bank te laat sit. Die feit dat Dweba binne 30 minute vervang is met Marx, het vraagtekens laat ontstaan oor die wysheid vd besluit. Nienaber was vaag oor die redes vir hierdie besluite, maar dit het intussen geblyk dat Marx bekommerd was oor ‘n styfheid in sy heupe, en dat Nienaber hom wou beskerm. Die vroeë besering van Jessie Kriel asook die van Faf de Klerk die vorige week, het die riskantheid van die 6-2 Bob Squad bank blootgestel en daar is verskeie beroepe op Nienaber en kie gedoen om terug te keer na ‘n meer tradisionele 5-3 bank.

So, die Bokke is wreed aarde toe gebring, en sak en pak Australie toe waar die eerste van twee toetse teen Australie die naweek gespeel gaan word. Nienaber het erken dat hy strategies naief was in die tweede wedstryd teen die All Blacks, en dat die vroee vervangings veroorsaak het dat die Bokke stoom verloor het, wat gelei het tot die All Blacks se twee laat drieë wat die Bokke die wedstryd gekos het.


So, het hy iets geleer? Hoe lyk die span?


Eerstens, Warwick Gelant vervang vir die beseerde Jessie Kriel op vleuel, myns insiens ‘n goeie skuif. Faf keer terug in die plek van Jaden Hendrikse wat myns insien brijant gedoen het, so nie te seker oor hierdie skuif nie. En natuurlik is Joseph Dweba en Ox Nche weer in die beginspan. Die bank het toe inderdaad weer die tradisionele 5-3 verdeling, met Hendrikse, Frans Steyn en die verguisde Elton Jantjies daar om seker te maak die agterlyn word nie weer so erg ontwrig nie.


Goeie span natuurlik, maar die konsensus blyk te wees dat daar te veel op geskiedenis staatgemaak word en nie genoeg na speler se huidige vorm gekyk word nie – soos byvoorbeeld Faf en Jaden, en Duane en Jasper Wiese. Natuurlik moet die terugkerende spelers kans gegun word om weer hulle voete te vind, maar dis ‘n ope vraag of hulle die wedstryde moet begin. Dalk meer geleidelik teruggebring word met ‘n korter skof van die bank af? Dweba is natuurlik ‘n uiters talentvolle speler, maar die vraag bly of hy moet begin of nie, en of sy selfvertroue dalk nie ‘n hou weg het na die fiasko teen die All Blacks nie.


Wat Australië betref, het hulle ‘n 6-2 bank ingebring, en vir Reece Hodge truggebring op heelagter om die verwagte bombardement van hoe balle te kan takel. Die Aussies se besielende kaptein, Michael Hooper, is nog steeds nie beskikbaar nie en die Aussies het altesaam ses veranderings aangebring aan die span wat in ‘n skokkende nederlaag met 48-17 teen Argentinië verloor het.


Die Bokke het natuurlik nege jaar laas in Australië gewen en loop die risiko om verder op die ranglys af te skuif sou hulle verloor. Die Aussies sal eweneens desperaat wees om dinge om te draai na hulle nederlaag en ook om hulle rekord teen die Bokke te verdedig. DIt behoort ‘n baie taai wedstryd te wees met albei spanne wat heelwat op die spel het.


Die wedstryd more-oggend 7.30 Suid-Afrikaanse tyd uitgesaai.


In die ander Championship wedstryd, speel die All Blacks teen Argentinië, met Ian Foster wat nou bevestig is afrigter tot na die wereld beker wat heelwat druk van sy skouers sal afhaal. Die Argentyne se sterte is in die lug na hulle oorwinning oor Australie en hierdie beloof eweneens om ‘n goeie wedstryd te wees. Die wedstryd more om 9.45 SA tyd uitgesaai.


KRIEKET


Nou tyd vir krieket, met die Proteas wat die magtige Engelse Bazzball en al op Lords binne twee en ‘n halwe dae oorrompel het. Maar die tweede toets lyk of bietjie taaier gaan wees, met die Proteas wat op ‘n kontroversiele wyse besluit het om eerste te kolf. Die span is vir slegs 151 uitgeknikker, en met sluitingstydop dag een was die Engelse se telling 6 lopies vir die verlies van een paaltjie.


Die Engelse se nuwe toets afrigter, die Nieu-Seelander Brendon McCullum is natuurlik ‘n groot voorstander van meer aggressie in toetse, en sy benadering het die naam Bazzball gekry. Dit beteken basies die span is aggressief positief en speel altyd vir ‘n wen – ‘n betreklik unieke benadering vir toetskrieket. Voor die wedstryd wat hulle teen die Proteas verloor het, het die Engelse die eerste vier toets onder McCullum in ‘n ry gewen en die konsensus was dat die benadering ‘n sukses was. Tot hulle hulle teen die Proteas se gedugte Fearsome Foursome snelboulers vasgeloop het.


So, die Engelse het ‘n punt om te bewys en die Proteas sou graag wou voortbou op hulle sukses in die eerste toets maar na my mening gaan dit ‘n opdraende stryd wees om hierdie wa deur die drif te trek.


FORMULE 1


Hierdie naweek vind die Belgiese Grand Prix by die beroemde Spa Franchorchamps baan plaas, die eerste wedren na die tradisionele somer vakansie. En hoeveel drama was daar nie gedurende hierdie gewoonlik stiller tyd van die jaar nie!


Eerstens het Fernando Alonso ‘n bom laat afgaan deur sonder kennisgewing of waarskuwing aan Alpine ‘n nuwe kontrak met Aston Martin te sluit.


Tweedens wou ‘n geskokte Alpine Alonso met hulle talentvolle reserwe jaer Oscar Piastri vervang, maar hy het kort na die aankondiging ontken dat hy vir Alpine gaan ry, en dit het begin deurskemer dat Piastri moontlik ‘n kontrak met McLaren gesluit het. Dit het die vraag laat ontstaan in wie se plek hy sou ry, aangesien beide Daniel Ricciardo en Lando Norris kontrakte vir volgende jaar het. Alpine dring daarop aan dat Piastri ‘n geldige kontrak met Alpine gesluit het en dat hy dus geen keuse gaan hê as om vir hulle te ry nie.


Verlede Woensdag het die volgende stukkie van die legkaart in plek geval toe Daniel Ricciardo bekend gemaak het dat hy McLaren ‘n jaar vroeër as verwag gaan verlaat nadat hy net eenvoudig nie die mas kon opkom in die McLaren wat berug is as ‘n moeilike kar om te bestuur. So, dit blyk dat Piastri waarskynlik op pad is McLaren toe, en die sport se beheerliggaam, die FIA het bekende gemaak dat die Contract Recognitions Board eerskomende Maandag gaan begin om te bepaal wie ‘n geldige kontak met Piastri het – Alpine of McLaren.


Verder is een van die swakse bewaarde geheime in F1 vanoggend bevestig toe Audi amptelik aangekondig het dat hulle in 2026 by F1 betrokke gaan raak nadat die FIA uiteindelik die nuwe enjin regulasies wat van 2026 af gaan geld, bevestig het. Alhoewel hulle geen verdere besonderhede verskaf het nie, is dit geen geheim dat Audi 75% van Sauber gaan koop nie en so as ‘n volwaardige vervaardiger in F1 gaan deelneem.


Terselfdertyd word daar verwag dat Porsche hierdie naweek gaan bekend maak dat hulle 50% van Red Bull Technologies gekoop het. Anders as Audi wat ‘n volwaardige vervaardiger wil wees, gaan Porsche fokus om ‘n enjin aan Red Bull te verskaf, wat dan ook aan Alpha Tauri, die Red Bull suster maatskappy verskaf gaan word.


Ander nuus is dat die Spa Franchorchamp baan verbeterings ter waarde van miljoene Euros aangegaan het in ‘n poging om hulle tradisionele plek op die kalender te behou maar as die fluisteringe waar word, kan die Suid-Afrikaanse Grand Prix dalk volgende jaar ‘n terugkeer maak in Spa se plek. Sal dit nou nie vir jou ‘n ding wees nie.


Die FIA se tegniese aanwysing (of technical directive) wat die hoeveelheid vertikale beweging van die motors gaan reguleer geld ook van hierdie wedren af. Dit is ingebring om die sogenaamde “porpoising” waar die motors teen ‘n geweldige frekwensie op en af beweeg, teen te werk as gevolg die effek wat dit op die jaers se rue ens het. Daar word verwag dat Red Bull en Ferrari negatief hierdeur geraak gaan word, terwyl Mercedes daarby behoort baat te vind met hulle rewolusionêre zero-pod benadering. Daar word natuurlik wyd bespiegel dat hierdie verandering ingebring is juis om Mercedes te bevoordeel, maar die tyd sal leer. Mercedes was op ‘n opwaartse kurwe voor die aanbreek van die somer vakansie, terwyl Ferrari weereens besig is om ‘n verloor uit die kake van ‘n oorwinning te bewerkstellig met hulle uiters swak strategiese besluite deur die loop van die jaar.


Red Bull en Max Verstappen is steeds die gunstelinge om hierdie jaar die vervaardigers en bestuurders titels te wen, en net ‘n katastrofe sal dit verhinder.


Die wedren begin Sondag om 15h00 met die kwalifikasie wat Saterdagmiddag om 16h00 begin.


3 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page