top of page
  • Writer's pictureIzak du Plessis

Almal is gestampte karre


"Hy's ook maar 'n gestampte kar, soos ek en jy," beduie die jong sakeman cum boer vir my oor iemand vir wie hy waardering het.

Sy groot hande dreig om die Camel tussen sy wysvinger en middelvinger te vergruis. Die brannas en water laat kantel sy kop effens. Hy skreef sy oë en sug die rook in sy mond sonder enige finesse sommer net so moeg uit.

Die Boesmanland se droogteveld loop diep en kras oor sy stembande as hy praat, sodat hy ouer as 32 klink.

"Hy's 'n gestampte kar, maar ek is lief vir hom, want hy judge niemand nie," verklap die jongman sy eie gebrokenheid, terwyl hy die van 'n ander in oënskou neem.

Dit was Sondagaand. Sedertdien spook die beeld van 'n gestampte kar by my.

Die laaste jaar van my lewe was, om dit sagkens te stel, glad nie die lekkerste deel van my lewe nie. Vir verskeie redes, ek gaan jou nie verveel met die besonderhede daarvan nie. Die seer was net baie meer as wat 'n mens te kenne durf gee, want almal is maar seer, almal battle, almal is gestampte karre.

Vanoggend het die stilte haar sagte arm oor die wrak van my lyf gegooi. Ek weet nie of alles gaan regkom nie, ek weet nie of alles ooit weer oukei gaan wees nie, ek weet nie of dit meer in my het om 'n break te maak nie, maar vir die oomblik het die stilte my getroos.

Nou ja toe, julle ander gestampte karre, die oomblik vir selfbejammering is verby. Staan maar op, haal diep asem en vat die lewe soos hy kom, want niemand anders gaan dit vir ons kan doen nie.

Die seëls van die bakkie is in en die enjin loop soos 'n jong merrie wat 'n hings wil laat werk vir wat hy in gedagte het met haar. Maar ek wag nog vir twee bande. Dalk kom hulle vandag. Hopelik kom hulle nooit nie. Wie weet en wat maak dit saak?

Ek het gisteraand die lekkerste cheese burger geëet wat ek ooit kon eet. Ek mag nie, maar hel dit was lekker. Dankie Die Windpomp Restaurant Brandvĺei.

Kyk, daar loop die supermaan!

En o ja, wees bietjie sagter met mekaar hier op FB, ons het dit nodig. Jy het nie nodig om heeltyd reg te wees nie. Ons kom al 'n heelal lank saam met verkeerd wees en al en ons survive dit, elke keer.

23 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page