top of page
Boereverneukers

Hulle lieg, bedrieg, gee voor. Hulle verdraai, verdoesel, verduister, verwoes. Geleidelik palm hulle jou vertroue in. Dan, eensklaps, is jy jou geld, status en reputasie kwyt. Só oortuigend doen hulle dit dat selfs die slimste, mees ingeligte mense ’n rat voor die oë gedraai word en eers besef wat hulle getref het nadat grootskaalse skade aangerig is en die gladdebek soos mis voor die son verdwyn het. Maar selfs swendelaars kom hulle moses teë...

 

Boereverneukers  vertel die stories van Afrikaanses wat van ons land se grootste skelmstreke gepleeg het.

 

Van die karakters is minder bekend by die publiek, maar ander het byna mitiese status in die Afrikaanse psige verwerf, soos die kubuskoning Adriaan Nieuwoudt, die pynmasjienman Gervan Lubbe, die kamma-pediater André Esterhuizen, die Hertzogville-profeet David Francis en die Trustbank-rowers Derek Whitehead en Antonie van der Merwe.

 

Dalk het jý ook deurgeloop, maar praat tot vandag toe nie graag daaroor nie.

​

Nou ook 'n televisiereeks op Kyknet - VIA

Ralph Haynes Godfather van die Wes Rand

Lê hy dood iewers in ’n mynskag? Of het hy die hasepad gekies terwyl aanklagte van bedrog en diefstal teen hom opgehoop het? Dié vrae hang in die lug nadat Ralph Haynes, die “mafiabaas” van die Wes-Rand, op 21 Januarie 2011 spoorloos verdwyn het. Nadat hy op daardie dag in ’n helikopter geklim het, is hy nooit weer gesien nie.

 

Haynes se vriende, wat berugte karakters soos Ferdi Barnard en Corrie Goosen insluit, onthou hom as ’n vrygewige Robin Hood wat armes van groente en geld voorsien het. Sy slagoffers, daarenteen, onthou hom as die meedoënlose skelm wat hulle uit groot bedrae geld en besittings geswendel het. Vandag wonder sy eksvrou wat met haar sal gebeur as Haynes onverwags sy opwagting sou maak.

 

Joernalis Izak du Plessis stel ondersoek in na die lewe en verdwyning van dié enigmatiese grootkop van die onderwêreld.

​

​

​

​

​

Nuwe Stemme 5

Die Nuwe stemme-reeks is ’n visoenêre projek waarmee Tafelberg-Uitgewers publikasiegeleenthede skep vir jong digters. Dink maar aan die sukses wat debutante soos Danie Marais, Ronelda Kamfer en Loftus Marais gehad het nadat hulle aanvanklik in Nuwe stemme gedebuteer het. Daarby het ook bekroonde joernaliste Erns Grundling en Toast Coetzer sowel as die dramaturg, Tertius Kapp, en die musikant Hunter Kennedy in hierdie reeks hul kniebuiging gemaak.

 

In hierdie bundel is daar opnuut bekende én opwindende name waaronder Desmond Painter, Fanie Viljoen, Pieter Odendaal en Izak du Plessis.

 

Die samestellers vir Nuwe stemme 5 is Heilna du Plooy en Loftus Marais

​

​

​

​

​

​

​

​

​

​

bottom of page