Izak du Plessis

Aug 12, 20212 min

Suid-Afrika sal moet skik met Zuma ter wille van gemoedsrus

Updated: Nov 9, 2021

Suid-Afrikaners sal ‘n soort kollektiewe pleitooreenkoms met oudpresident Jacob Zuma moet aangaan, ter will van ons gemoedsrus.

Dit is die mening van Dr. Llewelyn Curlewis, ‘n regskenner aan die Universiteit van Pretoria.

“Die wapenskandaal korrupsiesaak teen Zuma, sal jare neem om af te handel. Zuma, wat nou 79 is, sal teen daardie tyd 85 of ouer wees. Dit sal tot ons voordeel wees om vrede te maak met ‘n pleitooreenkoms,” sê Curlewis.

Zuma is verlede week in die hospital op Estcourt opgeneem, waar hy ‘n vyftien maande lange vonnis uitdien. Die department van korrektiewe dienste het ‘n mediaverklaring uitgereik waarin hulle sê die oudpresident is in ‘n buitehospitaal opgeneem vir mediese waarneming.

Die Jacob Zumastigting het hierop gereageer met ‘n twiet dat daar nog nie rede vir kommer is nie.

Maar Dinsdag het die Pietermaritzburg Hooggeregshof, gehoor dat Zuma ’n “uitgebreide noodprosedure” vir ’n “traumatiese besering” moet ondergaan wat nie langer vertraag kan word nie omdat dit ’n “beduidende risiko” vir sy lewe inhou.

Dié prosedure is glo al 18 maande lank vertraag weens samelopende regsprosedures, sowel as sy onlangse gevangesetting. Hy word sedert 28 November verlede jaar aktief vir dié besering behandel. Die minimale tydperk vir hom om daarvan te herstel word op ses maande geskat.

Mdutywa van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se Militêre Gesondheidsdienste, wat Zuma behandel, voer só aan in ’n mediese brief wat Sondag gestuur is aan die Estcourt-gevangenis, waar Zuma tans tronkstraf van 15 maande uitdien.

Dit is Dinsdag ook by sy wapenskandaal-korrupsiesaak in die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien, waar sy regspan virtueel aansoek gedoen het dat die saak teen hom uitgestel word omdat hy sedert Vrydag in ’n hospitaal buite die tronk behandel word.

Curlewis erken dat die jongste verwikkeling moontlik ‘n misbruik deur die regspan van Zuma kan wees, maar dit is vir die hof om te bepaal.

Regter Piet Koen het tydens die hofverrigtinge Dinsdag ondanks die mediese brief beslis dat Zuma se ware mediese toestand bepaal en aangeteken moet word in ’n verslag wat nie later nie as 20 Augustus by dié hof ingedien moet word. Daarna sal sy mediese toestand op ’n volgende hofdatum, 9 en 10 September, voor die hof uiteengesit word. Die staat het ook die reg om te vra dat ’n dokter van sy keuse Zuma ondersoek om te bepaal of hy medies geskik is om verhoor te word.

Zuma se saak is tot 20 Augustus uitgestel

Kliek hier om na die onderhoud te kyk

Kliek hier om na die onderhoud te luister

    220
    0